’n Onderwyser vertel een keer vir my hoe hy met ouers moes gaan praat wie se kind onaanvaarbare teksboodskappe vir ander kinders aangestuur het. Die ouers het dadelik onskuldig gepleit, want hulle mag blykbaar nie na hulle kind se selfoonboodskappe kyk nie. Die onderwyser vra toe vir die pa of hy sy kind se selfoonrekening betaal. Toe die pa dadelik ja sê, sê die onderwyser vir hom dat as hy betaal, dan het hy ook die reg om te bepaal wat sy kind met die selfoon doen.
Ouers se roeping voor God in vandag se vreemde wêreld sluit ook in dat hulle hul kinders reg moet leer wat hulle selfoongebruik betref. Hulle moet gesonde grense rondom hulle kinders se gebruik van sosiale media stel, asook hoe lank en wanneer hulle daarmee besig mag wees. Sowel ouers as kinders moet weet dat selfone nie hulle enigste of hulle heel beste vriend is nie. Wag, dit geld vir ons almal. Of ons nou grootouers, ouers of kinders is, ons moet ons selfone gereeld afskakel om tyd vir mekaar te maak. Ook moet ons dit gereeld afskakel om tyd te maak om die Here se stem beter te kan hoor. Hý bepaal ons lewe, nie ons selfone nie.
Comments