Ek wens dis Vrydag! Ek is so moeg, ek kan nie wag vir die vakansie nie! Die goeie lewe sal begin, as ek net eers afgetree het! Só wens ons ons lewens om, terwyl ons wag vir die goeie lewe. Wanneer kom die goeie lewe dan?
Die feit is, die goeie lewe is soos ‘n skat wat ‘n mens in jou hand vashou - jy sien dit net nie raak nie. Eintlik kan ons nou reeds in oorvloed leef. ‘n Wetsgeleerde het vir Jesus gevra wat hy moet doen om die ewige lewe te ontvang. In Lukas 10:27 beantwoord hy sy eie vraag: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, al jou krag en jou hele verstand. Jy moet jou medemens liefhê soos jouself.” Hierin lê die geheim vir die goeie lewe. Dit is die lewe, soos wat God dit bedoel het om te wees.
In die boek, The Good Life, deur Waldinger en Schulz deel hulle lesse, wat ‘n mens kan leer uit ‘n wetenskaplike studie van menslike geluk, wat oor ‘n tydperk van 77 jaar deur navorsers aan die Harvard Universiteit gedoen is. Die navorsers het agtergekom dat hoe sterker ‘n mens se verhoudings is, hoe meer waarskynlik is dit dat jy ‘n gelukkige en tevrede mens sal wees.
Die studie het ook onthul dat die kwaliteit van jou verhoudings ‘n invloed op jou liggaamlike gesondheid kan hê. Huweliksverhoudings, vriendskapsverhoudings, verhoudings met jou kollegas en mense by jou sportklub of leeskring dra alles by tot ‘n gelukkiger lewe. Die navorsing het bewys dat dit nooit te laat is om verhoudings te versterk nie en ook nooit te laat om nuwe verhoudings te begin nie.
Baie van die mense wat deelnemers aan die navorsing was, het in hul later jare aangedui dat hulle jammer was dat hulle nie meer aandag aan verhoudings gegee het nie en nie moeite gedoen het om kontak met familie en vriende te behou nie. Ons kan hieruit leer dat verhoudings aktiewe onderhoudswerk benodig en dat ‘n mens moeite moet doen om bewustelik kontak te behou en jou vriende en familie te waardeer.
As Christene moet ons in die eerste plek moeite met ons verhouding met die Here Jesus doen en daagliks tyd saam met hom spandeer. Dit is ons belangrikste verhouding en spoel oor in ons ander verhoudinge.
Uit die studie het dit ook duidelik geword dat mense, wat maklik gee en uitdeel, gelukkiger mense is. Lucas Maree sing: “Dis die goeters, wat ‘n mens weggee, wat jou ryk maak en dis daarmee wat jy mense om jou raak.”
Jy kan reeds ‘n stukkie hemel op aarde ervaar as jy lief is vir God, lief is vir jouself en lief is vir ander.
Comentarios