Teks: Matteus 5:39
Die bekende komponis, Joseph Haydn (1732-1809), se orkes was by geleentheid oorwerk en tot die dood toe moeg. Die hertog, in wie se diens hulle almal was, het ‘n vakansie aan hulle beloof, maar hy het dit keer op keer uitgestel. Haydn het toe ’n slim plan beraam. In reaksie op sy harde baas, wat hulle dag en nag laat werk het, het hy toe sy bekende Afskeidsimfonie daar in die jaar 1792 geskryf. Soos wat hierdie musiekstuk ontvou, raak een musiekinstrument na die ander stil. Haydn het ook vooraf gereël dat elke musikant ‘n kers voor hulle neersit. Hulle moes dit doodblaas en afstap van die verhoog, nadat hulle stukkie musiek klaar gespeel is. So het die musiek aangehou totdat die verhoog leeg was. Die hertog het uiteindelik die boodskap gekry.Toe het hy die beloofde vakansieverlof aan al die orkeslede toegestaan.
Haydn se wysheid klink vir my al te veel na dié, waaroor Spreuke van begin tot einde skryf. Soms is daar ‘n beter manier om iets gedoen te kry as reguit woorde. Soms is ’n simboliese boodskap baie meer effektief. Neem byvoorbeeld die draai van ’n ander wang in Matteus 5. Jesus leer dat grootste oorwinninngs, wat ons as die Here se kinders kan behaal, is juis om ‘n ander wang te draai wanneer mense ons beledig. Kom ons vra die Here om ons met Sy wysheid te oorlaai sodat ons sal weet hoe om in moeilike omstandighede reg op te tree. Dan gebeur die regte deurbrake in Jesus se Naam woordloos in ons lewe.
Gebed: Here, skenk die regte hemelse wysheid ook aan my.
Comentarios