top of page
Stephan Joubert

Ken jy daardie dieper verlange na die Here?

Saudade” noem die Portugese dit. Dit verwys na daardie vae, maar nostalgiese verlange na iets of iemand anderkant die horison. “Saudade” word soms hoorbaar in ons gesprekke oor die goeie ou dae, wat vir altyd oor en verby is. Dit word hoorbaar as ons smag na ’n beter wêreld, na mooier plekke, na dieper ervarings en na meer vrede en geluk. Enigiets vanaf ‘n bekende stuk musiek of ’n film of die geur van ’n blom in die veld ontsluit soms op onverwagse maniere sulke verlangens in ons lewe. Dan is “saudade” in die omtrek.


Psalm 63 verwoord ook na iets van hierdie nimmereindigende verlange na die Here se teenwoordigheid. Die skrywer gee hier taal aan sy eie gevoelens van “saudade” as hy praat van ’n dieper dors na God, daardie soort wat ‘n mens oorval in ’n droë, dorre land sonder water. Hy verlang so intens na die Here se nabyheid dat hy sê sy ganse wese hunker en dors na Hom. Die rede? Die skrywer sê dat hy vantevore iets hiervan in God se heiligdom geproe het. Daar het God se krag en heerlikheid hom oorweldig. Lewenslank hunker hy na nog meer hiervan. Al ken hy God baie goed en al glo hy in Hom, hunker hy na nog meer van God se teenwoordigheid. Hy verlang na ’n dieper aanraking deur die Here. Mag jyself ook vandag smag en verlang en hunker na die lewende God. Mag jy beleef dat Hy jou opnuut in Christus aanraak.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page