top of page
Stephan Joubert

Kom kyk saam na God se foto

Ons foto’s vertel stories. Daarom is al daardie foto’s van ons familie se kinderdae, prysuitdelingsfunksies, sportwedstryde en huwelike so kosbaar vir ons. Ons wys dit graag vir ons vriende. Ons plaas dit selfs op sosiale media. Van sulke spesiale familiefoto’s gepraat, God het ook ’n klompie mooi foto’s van Sy Kind: woordfoto’s, bedoel ek. Een van Sy mees aangrypende foto’s van Jesus is Hebreërs 1. Hier in Kersfeestyd moet ons almal dit weer onder oë neem. Hebreërs 1:1-2 is God se absolute pronkstuk. Dit vertel dat Sy Kind so groot en indrukwekkend is dat die ganse tyd nou rondom Hom draai. Nadat God op baie maniere in die ou dae gepraat het, praat Hy nou in die eindtyd met ons deur die Seun. Ook hoor ons hier in Hebreërs 1:2 dat die heerlikheid van God uit Jesus straal en dat Hy die afdruk van die wese van God is.


Die Griekse woord “karaktēr”, wat hier in vers 2 gebruik word, vertel dat Jesus die identiese replika van Sy Vader is. Ook hoor ons dat Hy die ware weerkaatsing van die Goddelike heerlikheid is. Praat van ’n fenomenale Kind! Hy is die rede vir Kersfees. Hy is die Een oor wie dit nou gaan. Deur Sy magswoord word alles in stand gehou. Hy is die erfgenaam van alles. Só groot is Jesus. Tog het Hy mens geword in ’n voerbak vir diere daar in Betlehem. Hy het mens geword om ons onthalwe. Vier in hierdie dae opnuut saam met Hom.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page