Lees Lukas 4:1-13
Die afgelope tyd is ek ‘n paar keer met mense, wat kul, leuens aan jou opdis of oneerlik sake bedryf, gekonfronteer. As ‘n mens sulke mense met die waarheid konfronteer, is hulle altyd baie kwaad vir jou. Ek dink persoonlik hulle probeer hulle eie skuldigheid met hulle woede teenoor jou wegsteek. As jy dan die regte pad loop en eerlik optree, word jy verwyt en beskuldig.
Die skuldiges tree op soos mense, wat kulkodes vir aanlynspeletjies gebruik. Jy maak of jy wen, maar eintlik wen jy oneerlik, want jy moet kulkodes gebruik om die wenner van die speletjie te wees. Die gebruik van kulkodes is algemeen in die speel van aanlynspeletjies en laat jou goed voel oor jouself en jou vernuftigheid. Dis eintlik ‘n vreeslike ontnugtering as jy agterkom jy kan eintlik glad nie vorder in die speletjie, as jy nie van die kulkodes gebruik nie.
Wanneer kulkodes in die ware lewe gebruik word, skep jy ‘n beeld van jouself wat oneg is. Jy is nie waarlik so goed as wat mense dink jy is nie. As jy dan uitgevang word, kan jy nie verstaan hoekom mense so kwaad vir jou is nie, want jy is dan so GOED en so VERNUFTIG.
As ek aan Jesus se lewe op aarde dink, staan ek verstom oor wat Hy alles moes deurgaan. Hy kon so maklik kulkodes gebruik het. Hy het al die mag gehad om dit te doen. Die Satan gebruik Jesus tydens Sy weerloosste oomblikke in die woestyn, waar Hy baie honger en dors is en sê vir Hom dis mos maklik om ‘n klip in brood te verander. Ook bied hy Hom al die koninkryke van die wêreld aan, maar Jesus weier elke keer met ‘n goeie antwoord. Jesus tree op met ‘n gesonde karakter en antwoorde, wat by Sy Godheid pas. “’n Mens kan nie van brood alleen lewe nie.” En “’n Mens kan net God alleen aanbid.”
Om getrou aan karakter op te tree, beteken jou eie karakter moet vas gegrond in geloof en die waarheid van die Woord van die Here wees. Die grootste stelers van karakter is gierigheid. Jesus kan alles, wat enige mens se hart begeer, kry. Hy bly egter soos sement vasstaan in Sy karakter. Hy stel nie belang in sielstelers, wat Sy karakter aanval of probeer verwoes nie.
Hoe bly ek dan getrou aan karakter in krisistye? Roep aanhoudend na die Here in gebed. Lees en oordink Sy Woord dag en nag. Glo en vertrou op Hom, al gaan dit hoe sleg. Jou antwoord teen gierigheid en kulkodes is elke keer: U is my Here en my God, ek vertrou op U. So leef jy daagliks in karakter saam met die Here, sonder die gebruik van enige kulkodes.
コメント