
In ’n onlangse boek oor die impak van humor vertel Jennifer Aaker en Naomi Bagdonas van ’n stukkie navorsing wat bevind ’n gemiddelde vierjarige kind lag amper 300 keer per dag, terwyl dit ’n veertigjarige ’n volle tien weke neem om 300 keer te lag. Eina! Hoor weer: dit neem ’n volwassene 70 dae om soveel te lag soos wat ’n klein kindjie in een dag lag.
Vir ons as volwassenes is die lewe ernstige sake. Selfs ons godsdiens het op teveel plekke lagloos geraak. Ek onthou juis hoe ons in ons kinderdae ons lagtande by die kerkdeure moes agterlaat. Om in die kerk te lag was in daardie dae taboe. Gelukkig het ek iewers Maarten Luther se opmerking raakgelees dat God ’n humorsin moet hê, want Hy het ons geskep. Sedertdien weet ek gesonde humor is een van God se goeie gawes aan ons almal.
Van lag gepraat - dalk ken jy die verhaaltjie van een klein dorpie se inwoners, wat baie bekommerd was oor hulle toekoms was. Oor en oor het hulle vir mekaar vertel dat groot moeilikheid op hulle wag. Toe besluit hulle om ’n wyse man te gaan besoek om hulp vir hulle bekommernis te kry. Hy vertel toe vir hulle ’n grappie. Almal het gelag. Hierna het hy vir die mense gesê om die volgende dag weer terug te kom. Toe vertel hy weer vir hulle dieselfde grappie. Minder mense het hierdie keer gelag. Die derde dag het presies dieselfde gebeur. Toe vra hulle vir hom hoekom hy dieselfde grappie oor en oor vertel. Hy het geantwoord: “Julle kan nie eens vir dieselfde grappie drie keer lag nie en tog kry julle dit reg om meer as drie keer oor dieselfde probleme te huil en kla.” Net so.
Om te bekommer oor die toekoms help niks nie. Jesus sê in Lukas 12:25 ons kan nie een enkele uur tot ons lewe byvoeg deur ons te bekommer nie. Ons moet eerder by die blomme in die veld gaan leer. God sorg vir hulle. Hoeveel te meer sal Hy nie ook vir ons sorg nie. Daarom kan ons meermale lag. Dit is aansteeklik. Ons leef en lag die pyn uit die pad.
Commentaires