“Bitter” is ’n gewilde woord. Of moet ek eerder sê: dit is ’n bitter gewilde woord. Dit gee eensklaps uitdrukking aan mense se seer en swaar. “Bitter" word soms ook met ander woorde verbind om die emosionele impak van bitterheid nog meer te onderstreep. Daarom hoor ons dat mense praat van bitter swaar. Of van bitter moeilik. “Bitter” het egter ook ’n paar positiewe konnotasies bygekry, wanneer dit in kombinasie met ’n paar ander woorde gebruik word. Dit is hoekom ons deesdae hoor van bitter lekker. Of van bittersoet.
So van bitter gepraat, ons elkeen het die keuse of ons lewe bitter hier in 2025 gaan wees, en of ons dit met meer optimistiese woorde, soos bittersoet of bitter lekker gaan kombineer. Ons het nie aldag beheer oor ons omstandighede nie, maar ons het wel beheer oor wat in ons harte gebeur. Ons kan kies hoe ons dink, voel en optree. Hierdie reg-kies-, reg-dink-, en reg-voel-pad word helder en duidelik in Psalm 119:105 uitgestippel. Hierdie bekende teks sê die Here se woord is die lamp, wat lig gee waar ons ook al loop.
Wanneer ons lewens in die Here se Woord ingeplant en geanker is, begin elke dag reg. Dan begin elke gesprek reg. Dan is ons ingesteldheid binne elke situasie reg. Dan staan elke bitter ervaring die kans om met die Here se soetigheid vermeng te word. Dan verskuif ons lewens gereeld vanaf bitter na bitter lekker.
Comentarios