top of page

Moenie maar net na mense luister nie - praat hulle ook nader

Stephan Joubert

“Luister!” Dit is een van die gonswoorde van ons dag. Ons hoor om elke hoek en draai ons moet na mekaar luister. Vir seker is luister belangrik. Deur te luister na mekaar se verhale en ervarings, groei begrip en deernis vir mekaar, maar ‘n mens kan ook irrelevant luister. Jy kan almal innooi en gedurig na hulle luister, sonder om ooit self te praat. Jy kan jouself dood luister! Nog meer, jy kan gedurig luister, sonder om diegene wat verkeerd is, te korrigeer. Of om hulle reg te help. Luister kan nooit ’n doel opsigself wees nie. Mense wat reg luister, gaan stel dit, wat verkeerd is in hulle eie lewe, reg. Maar mense wat reg luister, weet ook dat almal, wat aan die woord is, nie outomaties reg is nie. Goeie luisteraars is derhalwe ook goeie begeleiers van ander. Hulleluister en leer, maar hulle luister en help ook reg, wanneer dit nodig is.


Paulus skryf in 1 Korintiërs 9 hoe hyself vir die Jode ’n Jood geword het en vir die Grieke ’n Griek, maar met ’n bepaalde rede. Hy was nooit ’n verkleurmannetjie, wat maar net na almal geluister en hulle tevrede gehou het nie. Paulus se doel was om almal aan Christus bekend te stel. Hy was bereid om die verskillende kulture van sy dag te leer ken. Hy het graag na verskillende mense geluister. Maar dit het nie veroorsaak dat hy sy eie beginsels laat vaar het nie. Inteendeel, Paulus se doel was om die lig van die evangelie helder te laat skyn. Sy luistervaardighede, asook sy eie aanpasbaarheid in verskillende kontekste, was altyd in diens van die evangelie. Leer asseblief by Paulus hoe om reg te luister na ander mense. Dan sal jy ook weet hoe om mense nader aan die Here te praat. Dan sal jy hulle op die regte maniere en op die regte tyd aan Hom bekendstel.

Comments


bottom of page