top of page

Moenie na my luister nie!

Roedolf Botha

Roedolf Botha skryf in sy nuutste My Wêreld nuusbrief oor die gevaar van geestelike celebrities vir ons geestelike lewens.
Moenie na my luister nie!

Hoe korrek dink jy is jou eie opinie? Elkeen van ons huldig ons persoonlike opinie sekerlik omdat ons dink dat dit ‘n goeie en gesonde standpunt is. Dis tog net menslik. ‘n Wyse mens sal egter altyd die insig hê om te weet dat hy nie altyd “reg weet” nie. Alhoewel ‘n nederige mens dikwels goeie opinies en advies sal hê, sal hy egter ook gereeld mense wegwys van homself af na wyser mense.


Seker een van die nederigste stellings is onlangs deur ‘n Christen rock-ster, John Cooper van die baie gewilde en suksesvolle heavy metal groep, Skillet, gemaak. Hy het eintlik verwys na aanhangers van gewilde worship-leiers (soos Marty Sampson) wat nou in hulle geloof twyfel, omdat hulle eie helde hulle geloof verloor het. In ‘n wêreld waar celebrities, akteurs en sangers (selfs Christensangers) tot amper-gode verhef word, het Cooper ‘n beroep gedoen op musiekaanhangers om nie die woorde van sulke vermaaklikheidskunstenaars te ernstig op te neem nie! Hy het mooi verduidelik dat bekende mense en kunstenaars, soos hyself, nie noodwendig genoeg van die waarheid beet het nie. Hy het oor homself gesê dat hy te min van die lewe en die Bybel weet. Nee, het hy gesê, daar is ander leraars en kerkleiers, wat lank gestudeer het en wat ‘n volwasse siening oor Bybelse en ander lewensake het. Celebrities is nie kenners nie, al is hulle bekend. Hy het daarop gewys dat jongmense en ander in die samelewing geheel en al te veel na sangers, akteurs en populêre ghoeroes luister. Wanneer dit by geestelike sake kom, het hy gepleit dat hulle eerder aandag moet gee aan goedopgeleide leraars en teoloë, wat weet hoe die Bybel gelees moet word.


Dit beteken natuurlik nie dat teoloë altyd gesonde uitlatings maak nie. Inteendeel, baie dominees en pastore raak netso veel nonsens kwyt as baie van die ander nonsenspraters. Ek kan net myself herinner aan die gemors, wat ek al self kwyt geraak het in die naam van waarheid! Nee, die punt is eerder die geweldige self-perspektief en nederigheid, waarmee John gepraat het. Hy dring daarop aan dat hy in baie opsigte nie die antwoord het nie. Sy boodskap is as’t ware:


Moenie na my luister nie. Ek is nie die kenner nie. Daar is beter kenners.

Hoe verfrissend en vars in ‘n samelewing waar elkeen harder wil lawaai as die persoon langsaan. Ek dink veral ons, as Jesus-volgelinge, moet meer kere vir ons “aanhangers” sê:


Gaan na iemand anders. Ek weet nie. Ek is maar net ‘n mens. Kry ‘n tweede opinie. My voete is ook van klei. Daar is maar één Here en dis nie ek nie.

Commenti


bottom of page