“Gaan kyk ’n slag hoe krap mense in asblikke vir kos, dan sal jy dankbaar wees vir dit wat jy het.” Ken jy sulke opmerkings? Word ander mense se slegte omstandighede ook in jou eie omgewing gebruik as motivering hoekom jy jou seëninge moet tel?
Dit is ‘n feit dat baie mense op die planeet swaarder kry as jyself kry. Maar die Bybel gebruik nie ander se omstandighede om jou dankbaarder te maak nie. God se Woord volg ’n ander roete. Die vraag van die Bybel is nooit of jy dankbaar is, omdat jy nie so swaar kry soos persoon X of Y nie, of omdat iemand anders sieker of stukkender as jyself is nie. Jy word nooit opgeroep om jouself met mense te vergelyk wat dit slegter getref het as jyself sodat jou eie dankbaarheid kan toeneem nie. Die Bybel se vraag is eerder of die Here se hart in jou binneste klop. As dit die geval is, sal Hyself jou bewus maak van al Sy seëninge in jou lewe. Dan sal die Heilige Gees jou Leermeester wees wat God se goedheid in jou lewe onderstreep. Maar die Gees sal veel meer doen as om jou net dankbaar te maak. Hy sal jou ook gedurig aanspoor tot ’n lewe van vrygewigheid. Hy sal Jesus se vrygewige hart in jou binneste laat klop. Hy sal Jesus se woorde in Handelinge 20:34-35 in jou siel ingraveer dat dit beter is om te gee as om te ontvang. Dan sal jy die res van hierdie verse ook jou eie maak dat jy hard moet werk sodat die swakkes en armes kan eet. Dan sal jy graag jouself , jou sente en jou tyd met ander deel. Dan sal jy waarlik iemand wees wat dankbaar én vrygewig leef.
Comments