top of page

Moenie “on-gevraagd” leef nie

Stephan Joubert

Milan Kundera skryf: “The only truly serious questions are ones that even a child can formulate.” Kinders vra baie vrae. Martin Harris, ’n bekende Amerikaanse sielkundig, reken die gemiddelde kind vra tussen die ouderdom van 2 en 5 jaar sowat 40,000 vrae. Daarna verminder dit drasties totdat kinders teen elfjarige ouderdom amper geen vrae meer vra nie. Daar is baie redes vir hierdie afname in vrae, van neurologiese ontwikkeling tot by vrees vir publieke verwerping namate mense ouer word. 


Jesus was nie bang om vrae te vra nie. Een navorser bereken selfs dat die Evangelies 339 vrae van Jesus bevat. Onder andere het Jesus se vrae mense gekonfronteer met Sy eie identiteit: “Wie sê die mense is die Seun van die mens?” (Matteus 16:13) Ook het Jesus se vrae Sy aanhoorders met hulle eie verwagtings van Hom gekonfronteer: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” (Matteus 20:32) In dieselfde asem het Jesus se vrae mense se diepste motiewe ontmasker: “Hoekom noem julle my Here, maar julle doen nie wat ek sê nie?” (Lukas 6:46) Ook het Jesus se vrae mense gedwing om keuses oor hulle eie prioriteite in die lewe te maak: “Wat help dit as mense die hele wêreld wen, maar hulle verloor hulle siel?” (Markus 8:36) 


Moenie “on-gevraagd” ouer word nie. Vrae moet ook ’n normale deel van jou lewe uitmaak, goeie vrae, bedoel ek. Goeie vrae is nie sinoniem met ‘n betwyfeling van alles en almal nie. Sulke tipe vrae lei net tot ‘n siniese lewensingesteldheid. Goeie vrae, daardie soort wat tuis hoort binne jou geloof, hou jouself jonk, nuuskierig, kreatief en leerbaar. Inderdaad is daar nie antwoorde op alle vrae nie, maar daar is altyd ’n paar goeie antwoorde op die regte vrae beskikbaar. Trouens, die beste antwoord ooit, wat selfs kinders kan beantwoord, het jyself reeds gegee. Dit was toe jy vir die Here ja gesê het.

Comentarios


Los comentarios se han desactivado.
bottom of page