Moenie oorhaastig sê die paar besittings op jou naam is maar net aardse goed nie. Aardse goed maak ook saak. Jy hoef regtig nie skuldig te voel as jy ’n paar mooi dinge besit nie. Jy mag dit ook as ’n geskenk uit God se hand geniet. Só leer Prediker 5.
Sommiges maak besittings gou-gou af as onbelangrik, maar dit is nie. Ja, besittings word ’n probleem as dit wat jy besit jou identiteit en jou baas geword het. Besittings is verkeerd as jy dit nie ook deel met mense in nood deel nie, maar die Here verwag regtig nie jy moet leef asof jou huis, jou motor, of jou klere nie ook saakmaak nie. As jy dit as geskenke uit Sy hand ontvang het, mag jy dit geniet. Sê vandag dankie vir die Here vir elke sent op jou naam. Dank Hom vir die skedonk wat jy ry, of vir jou mooi wiele. Dank Hom vir elke stukkie brood en vir elke stukkie “fillet steak”. Sorg ook dat jy ruim en aanhoudend weggee uit die bietjie of baie wat jy op jou naam het. Leef vrygewig met dit wat jy het - dan geniet jy dit, wat jy het, reg.
Comentários