top of page

My leefpad is op die tafel

Stephan Joubert

Mag ek gou ’n paar vrae vir jou vra oor jou eie lewensroetes gedurende die afgelope jaar:

  • WAAR HET JY IN 2021 ’N PRAKTIESE IMPAK VIR CHRISTUS GEMAAK?

  • HOEVEEL KEER WAS JY DIE VERSKIL VAN EEN IN IEMAND SE LEWE?

  • WATTER MENSE SAL KAN GETUIG DAT JY IN 2021 OP KONKRETE MANIERE VIR HULLE HOOP GEBRING HET?

Toe ek vir myself ook hierdie vrae vra, onthou ek van ‘n klompie leefreëls, wat ek ’n paar jaar gelede vir myself neergepen het. Dit was bedoel as my leefbeginsels vir die nuwe jaar. Hier is dit weer. Wil jy dit nie ook omskep in jou eie leefreëls vir die nuwe pad, wat voorlê in 2022 nie:

  • Om Christus na te volg met alles in my

  • Om goed te doen in Jesus se Naam sonder om ooit iets terug te verwag

  • Om ander geestelik ryk te maak, al voel ekself soms baie arm

  • Om vrygewig te leef

  • Om ’n voltydse leerder te wees wat lees, luister en oplet

  • Om te doen wat ek moet, sonder om alles vir almal te probeer wees

  • Om vrede te maak met die feit dat ek sommige mense sal teleurstel en nie sal voldoen aan almal se verwagtings nie

  • Om mense altyd met respek en deernis te behandel

  • Om te sorg dat die woorde “ekskuus” en “mooi so” ’n deel van my normale woordeskat uitmaak

  • Om vergeetagtig te wees wat my eie behoeftes en belange betref

‘n Geseënde nuwe jaar!

Comments


bottom of page