In 2025 is die Here my Herder.
In 2025 gaan ek Jesus se kruis getrou dra, omdat Sy kruis my dra.
In 2025 gaan ek ’n raaksiener én verspreider van goeie nuus wees. Daar’s oorgenoeg mense rondom my wat die teenoorgestelde doen. Hulle sien heeltyd net probleme en slegte dinge raak. Ekself gaan eerder op God se goedheid en op al die goeie dinge, wat mense doen, fokus.
In 2025 gaan ek tussen ander en saam met ander aan die hand van 1 Korintiërs 13 leef. Ek gaan nie by voorbaat die slegste van mense dink nie. Ek gaan nooit boekhou van die kwaad nie. Ook gaan ek myself nie daarin verlustig as ander sukkel om die regte koers te vind nie.
In 2025 gaan ek nie my eie omstandighede met ander mense s’n vergelyk nie. Nooit gaan ek sê dit kon erger gewees het nie.
In 2025 gaan ek vrygewig leef. Ek gaan ander in die bietjie of bietjie meer, wat ekself besit, laat deel.
In 2025 gaan ek vrede met die feit maak dat ek in onseker tye leef. Dit is hoe dit is. Ek gaan nie gedurig geskok, ontsteld en omgekrap saam met die res wees nie. Ek gaan elke dag opleef tot eer van die Heer.
In 2025 gaan ek groter vreugde in eenvoud vind.
In 2025 gaan my deur eerbied teenoor God en mense gekenmerk word.
In 2025 gaan die Here en my geliefdes meermale my gesig as my rug sien. Ek gaan meer tyd vir hulle maak.
Stephan Joubert
コメント