My Vakansie
- Siegfried Louw
- Feb 18
- 2 min read
Hier is die eerste “My Lewe” van die jaar uit my pen. Ek voel so ʼn bietjie soos op skool, want my skryfstuk gaan oor my vakansie. Onthou jy daardie eerste opstel of mondeling oor jou vakansie in die nuwe kwartaal? Hier volg myne, maar wel met goeie rede.
Dit is lekker om ʼn opwindende jaar te geniet. Die nadraai daarvan is egter dat ʼn mens nogal intens moeg is, wanneer jy Desember tref. Groot was my verligting dus om na ʼn paar dae se rus by my ouers by die see te kan gaan kuier.
Een laatmiddag gaan werk ek toe mos ʼn 6 km draffie in, met ʼn kort swem in die branders daarna. Terwyl my familie nog stap, swem, kuier en gesels, kry ek vir my ʼn afgesonderde plekkie, waar ek diep asemhalingsoefeninge doen en die musiek van die egalige branders by my geheue insuig. Dit is brandhout vir die jaar wat voorlê. Dit voel asof die spanning by my rugspiere deur die warm sand opgelos en ingetrek word. Die sagte namiddaglig lyk oranje agter my geslote oë.
Meteens begin ʼn manstem agter my praat. Binne twee sinne weet ek dit is ʼn dominee. Hy verduidelik sy jaar se strategie met sy kerkraad aan sy vriend. Wanneer sy vriend antwoord, hoor ek onmiddellik dit is ʼn pastoor. So ʼn paar sinne later en ek hoor die spesifieke probleem, wat hulle beide op hande het. Ek kan nie help om nuuskierig te wees nie, maar ek weet ook hierdie twee manne kom uit ʼn heel ander provinsie as waar ek werksaam is.
Met my volgende inasem konsentreer ek daarop om die seelug te ruik. Dit werk. Die stemme agter my dreun voort. Ek hoor die knoop en ek weet wat ek op die spesifieke oomblik sou wou vra. Dit sou egter werklik onbeskof wees om dit te doen – hulle wis nie eers dat ek onwillekeurig die hele gesprek gevolg het nie. My skouerspiere wil styf span sodat ek gereed kan wees vir aksie, maar die warm seesand onder my hou my rustig. Ek ontvang die afstand tussen my en die twee vriendelike mense, wat mekaar moed inpraat, as ʼn buffer. Uiteindelik groet hulle mekaar en elkeen stap in sy eie rigting, sonder dat ek ʼn vinger verroer het.
Ek het ʼn hele probleem uitgeluister, knope raakgehoor, moontlike alternatiewe scenarios geskep, maar geensins betrokke geraak nie. Ek kon hoor dat God met hulle besig is op God se genadevolle manier.
My familie het net vir my gelag toe ek hulle daarvan vertel. Wat is die kanse dat ek in my isolasie-kolletjie, handdoek oor my gesig, so direk met werk gekonfronteer sou word? Hoe het hierdie probleem my op die strand uitgesnuffel gekry?
Die ervaring was wel ʼn Kersgeskenk. Ek was bloot ʼn waarnemer, maar het geensins betrokke geraak nie. Dit was nie die oomblik of plek daarvoor nie.
Miskien is dít wat ek tans van God kan ontvang: Om te onthou dat Gód sorg. Soos wat een teoloog een keer gesê het: “We have a Saviour, He’s doing pretty good. Don’t replace Him!” Nie alle uitdagings is joune om op te los nie.
Comentários