top of page

My woorde soet soos heuning

  • Elmarie van der Westhuizen
  • 12 minutes ago
  • 2 min read

In April 1865 is Abraham Lincoln, die Amerikaanse president, by ‘n teateruitvoering vermoor. Van die persoonlike items, wat later in sy jas se sak gevind was, is o.a sy bril, ‘n knipmes en verskeie koerantuitknipsels. Hierdie koerantuitknipsels was vleiende artikels oor hom en sy prestasie as president. Hy het hierdie koerantuitknipsels waarskynlik gekies vir die vertroosting en ondersteuning, wat dit tydens ‘n moeilike presidentskap vir hom gegee het.


Ons woorde dra gewig. Van tyd tot tyd het ons almal aanmoediging nodig om ons deur moeilike situasies te help. Die Bybel is vol daarvan dat ons mekaar moet bemoedig en ondersteun. God weet dat ons mekaar nodig gaan hê – nodig vir aanmoediging, hulp en ondersteuning. Ons kan mense op verskeie maniere bemoedig, maar dit is veral ons woorde, wat die grootse impak het. Ons woorde, wat oor kontinente ander kan bereik, ook lank nadat ons nie meer op aarde is nie, kan ‘n verskil maak. Ons word vandag steeds aangeraak deur die briewe, waarin Paulus die gelowiges in die verskillende gemeentes bemoedig het.  


Om Jesus se liefde uit te leef, ook in my woorde, het ek nodig dat ek tyd by Hom spandeer. Jesaja getuig:


“Die Here my God het my geleer om die regte woorde te gebruik sodat ek dié wat moeg is, kan moed inpraat. Elke môre laat Hy my opnuut weer luister, Hy laat my luister soos ‘n leerling moet luister.” (Jesaja 50:4 AFR 83)

Jesaja sê dat hy elke more opnuut die Here hoor, dat die Here hom elke môre opnuut laat luister. Hy kan net ontvang, omdat hy tyd by die Here spandeer. Daar leer God hom wat om te sê, wat die regte woorde is, en dit moet elke more weer nuut gebeur.


Salomo stel dit so pragtig: “’n Gelowige se woorde is soos ’n borrelende fontein. Dit bemoedig mense, troos hulle, wys hulle die regte pad.” (Spreuke 18:4 DB) Salomo verwys hier na die suiwerste, skoonste water, waarvoor ‘n borrelende fontein bekend is.


Elkeen van ons kom daagliks in aanraking met mense, wat bemoediging nodig het. Hulle mag dit miskien nie wys nie, maar innerlik trap hulle water. My bemoedigende woorde kan hulle weer moed gee. Aanmoediging / bemoediging is ‘n gawe van die Heilige Gees en is ongetwyfeld een van die kragtigste maniere, waarop ons ander kan help. (Romeine 12:6,8) 


Ons almal het al, soos die bekende Amerikaanse skrywer, Mark Twain, die positiewe effek ervaar van ’n opreg bedoelde kompliment: : “I can live on a good compliment for two weeks with nothing else to eat.” 


Mag my woorde ook so wees – “soet soos heuning en geneeskragtig vir die mens”. (Spreuke 16:24 DB)


Comments


Commenting on this post isn't available anymore. Contact the site owner for more info.
bottom of page