
God se nuwe vandag is hier. Dit het aangebreek toe die engel in Lukas 2:11 uitgeroep het dat Jesus vandag vir ons gebore is. Die Verlosser het aangekom. ’n Splinternuwe vandag het op God se kalender verskyn. Die tyd het skielik gedraai. Die ewige nuwe dag van die Here het begin, toe Jesus na ons toe gekom het. Om in Hom te glo, is om te leef binne ‘n nuwe tydsone, Syne! Dit is om deel te wees van God se ewige vandag. Die ou dae van dood en donkerte is oor en verby vir elkeen, wat voor Hom buig. Jesus se vandag is propvol genade, vrede en goedheid.
God se nuwe dag is ook goeie nuus vir mense in nood. So vertel Jesus, wanneer Hy later in Nasaret se sinagoge preek. Terwyl Hy aanhaal uit Jesaja, vertel Hy hoe God se nuwe vandag ook daardie dag in hulle midde in vervulling gegaan het (Lukas 4:16-21). Sy aankoms is van toe af goeie nuus vir mense, wat hulleself bevind aan die swaakrykant van die lewe. Armes, gevangenes, blindes en verdruktes gaan nou die Here se goedheid op konkrete maniere beleef. Hulle gaan die genadejaar van die Here eerstehands ervaar.
Dit is alweer feestyd hier in ons eie dag. Maar dit is steeds ook Jesus se nuwe dag. Daarom moet ons gedurende hierdie Kersfeestyd sorg dat Sy goeie nuus daardie mense bereik wat deur die lewe skoongeboul is. Ja, God se nuwe vandag moet ons eie lewens vol vreugde maak. Maar ons moet ook seker maak dat dit goeie nuus is vir Jesus se gunsteling mense oor wie Hy Hom ontferm in Lukas 4. Dan vier ons Jesus se aankoms en Sy nuwe dag op die regte manier.
Opmerkingen