
“As ek net weer kan loop!” sê ‘n vriendin in haar hospitaalbed, maande nadat sy ‘n hoofbesering opgedoen het. So het ‘n man, wat 38 jaar lank as invalide geleef het, vir die soveelste keer hoopvol by die bad van Betesda op sy slaapmatjie gelê en wag vir die wonder-oomblik, wanneer die water in beweging kom. Wat ‘n vreugde moes dit nie gewees het nie, toe Jesus vir hom sê: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop.” (Johannes 5:8 NLV) Hy het nie net die slaapmatjie opgetel en begin loop nie, maar boonop in die moeilikheid gekom daaroor. Hy het selfs openlik erken dat Jesus hierdie genesingswerk gedoen het.
Dis tog ondenkbaar dat hy net om die draai, wanneer hy dalk moeg of moedeloos voel, homself weer op die “veiligheid” van hierdie simbool van sy siektetoestand sal gaan parkeer en homself bejammer. Dis mos net so dom as ek, wanneer ek moeg en moedeloos raak, weer terug na die bekendheid van ‘n vorige plek van ellende begin hunker, myself as’t ware weer daar gaan “parkeer.”
Nee, ek moet eerder besef dat ek nou soos destyds by die Bad van Betesda iets van die wonderbare lig van God se heerlikheid in die gesig van Jesus gesien het. Al is ek net ‘n gekraakte kleipot, is ek gevul met die lig en die allesoortreffende krag van God. In sy almagtige, liefdevolle hande is ek dan ‘n verskilmaker, wanneer ek met ‘n opgerolde slaapmatjie die straat af huppel en vertel: “Jesus het my aangeraak en Hy wil dit vir jou ook doen!” Dit gaan nie oor selfvertroue nie, maar oor God-vertroue – dit gaan oor ‘n sekerheid dat Hy die werk gedoen het en dat my lewe nou nuut geword het. Ek hoef nie meer na my identiteit in die bekendheid van my seer en teleurstelling te soek nie, maar ek kan nou met nuwe vertroue, liefde en krag weer bou aan verhoudings, bou aan my lewe. Al is ek ‘n gekraakte kleipot, dis die lig, die liefde en die krag van God self, wat nou in en deur my werk. Hy is nou my nuwe veilige plek.
But we have this treasure in jars of clay to show that this all-surpassing power is from God and not from us. (2 Corinthians 4:7 NIV)
Comments