
Terwyl ek besig is om hierdie te skryf, staan die land se Covid 19-syfers in Gauteng op 47,7% uit ‘n 100 mense wat Covid-positief is. Dit is absoluut skrikwekkend en ontstellend. Ons ken almal iemand, wat in isolasie is. Ons is bang, onseker, kwaad, gefrustreerd, raadop, dalk siek of aan die herstel. Dalk is jy hartseer oor geliefdes, wat van jou weggeneem is! Ek voel ontneem van my sosiale lewe en my vriende.
Vanoggend lees ek in 1 Petrus 1:3 die volgende: “Nou het ons ‘n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis, wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.” Wat ‘n troos is dit nie. Ons “lewende hoop” is Jesus Christus, wat alreeds vir ons ‘n plekkie in die hemel reghou.
In hierdie swaar tye is die enigste ding, wat ons kan regop hou, hoop. Hoop is iets, wat sterk na vore kom in tye van moedeloosheid en swaarkry. Ons het nie eintlik hoop nodig, wanneer dit goed gaan nie. Ons het hoop nodig in hierdie tyd waarin ons nie ‘n môre kan sien nie, wanneer ons in die hospitaal lê, of suurstof nodig het.
Sien raak dat Jesus jou hoop is. Hy lewe en het vir jou ‘n plek berei in die hemel, of dit nou goed gaan of bitter swaar is in dié tyd, Hy het jou nie vergeet nie. Hy is deur die Vader na ons toe gestuur om ons die versekering te gee dat ons Sy kinders is en dat ons nooit weer alleen sal wees nie.
Ons lees verder in vers 6 dat ons nie deur allerhande beproewings bedroef moet word nie. Die egtheid van ons geloof word in hierdie tye getoets. Skreeu ek na die hemele met verwyte teenoor God, of wys ek my vinger na Hom, terwyl ek huilend vra hoekom dit of dat met my moes gebeur? Met Jesus as ons hoop moet dit ons geloof versterk. Wanneer ons aan Jesus vashou, verskuif ons fokus van moedeloos na hoopvol. Natuurlik mag jy kwaad wees oor dinge wat gebeur, maar nooit mag dit jou vervreem of wegneem van ons liefdevolle Vader nie. Want Hy het vir ons ‘n lewende Hoop gestuur, Jesus Christus.
So, terwyl jy bang en dalk moedeloos is, onthou van jou erfporsie in die hemel, Jesus as jou lewende hoop en groei in jou geloof in hierdie tyd deur elke dag naby aan Hom te leef.
Comments