Vandag is dit die 21ste Januarie. Die euforie van Kersfees en Nuwejaar is verby. Ons bruin lywe is besig om te taan en ons sukkel met die gewiggies van die feestyd. Ons is terug by die werk en die lewe hardloop alweer teen ‘n duislingwekkende spoed onder ons uit .
Ek wonder baie oor mense se Nuwejaarsvoorneme en hoe hulle dit besluit of volhou.
Volgens Forbes Health, besluit 48% mense om meer te oefen. Baie interessant is dat slegs 3% mense ‘n voorneme het om by die werk beter te presteer. Ons is so werksgedrewe, maar as dit by voornemens kom, lê dit die laagste op ons lys. Ander voornemens op die lys is om meer tyd saam met familie te spandeer, minder te eet, op te hou rook, te reis, ens. Hierdie lys verskil ook van die een van 2023 waarvolgens mense meer op hulle geestesgesondheid gefokus was.
Vrydag die 17de is ook verby. Volgens Forbes Health word dit “Quitter’s Friday” genoem. Hoekom? Dis die dag waarop die meeste mense hulle Nuwejaars-voorneme laat vaar! Ja, dis verby... jy het klaar moed opgegee.
Op geen webtuiste, wat ek besoek het, word die voorneme uitgespreek dat ek my Bybelkennis of geloofslewe wil opskerp nie. Dalk kan jy vandag, al is Januarie amper verby, ‘n nuwe besluit neem. Nie ‘n voorneme nie, maar ‘n blywende besluit neem oor jou geloof. Jesus ken nie die woorde “Quitter’s Friday” nie. Hy is elke dag onvoorwaardelik sonder uitsondering by ons. Dit is waarvoor Hy gesterwe het, sodat ons vreugdevol met hoop kan lewe, elke dag van die jaar, ook op “Quitter’s Friday”.
Omdat ek in Christus met Sy hart leef, kyk ek anders na die lewe. Ja ons was moeg aan die einde van 2024, maar dit is nie my lewensuitkyk of leefstyl om altyd moeg te wees nie. Ek leef nog steeds met vreugde en dankbaarheid. Hier waar ons nou in Januarie is, met die jaar wat onbekend voor ons uitstrek, sien ek opgewonde uit na Christus se hand in my lewe. Ek hunker na dit wat ek hierdie jaar van die Bybel kan leer. Ek is opgewonde oor die Here se beleggings in my lewe. Ek is vol verwagting oor my gebedslewe en waarvoor ek kan bid. Ek begeer met my hele hart om meer aktief vir die Here in Sy koningkryk te werk, deur ander mense te help wat minder as ek het.
Hierdie jaar is MY geloofsgroeijaar! Ek kan nie anders nie! God is in my en leef deur my. Hy verwag van my toegewydheid, entoesiasme, diensbaarheid en ‘n liefde vir Sy woord. Ek gaan met vreugde Sy werk doen, want Hy is die wêreld vol! Hierdie lewenswyse gaan nie net ‘n voorneme kan wees nie - dit gaan ‘n lewensveranderende jaar wees om met blydskap in Sy koningkryk te dien.
Vergeet van jou Nuwejaarsvoorneme - wees ‘n “Nuwejaarsvoorneme Quitter”. Daar is ‘n nuwe uitdaging vir jou! Van nou af is jy ‘n vreugdevolle Jesus-doener. Jou hande en voete is vol geestelike eelte gewerk. Jou sosiale-platform-verliefde-brein, het nou verander in ‘n studiebrein, deurdrenk met ‘n honger na kennis en liefde vir die Woord.
Ek kan jou waarborg jy gaan aan die einde van 2025 terugkyk, al is jy gedaan, en dink: DIT was die jaar van my lewe! My Jesus-doen-jaar. Sien met opgewondenheid uit na 2025!
Commenti