top of page

OHIO jou geloof

Stephan Joubert

Jare gelede het ek vir myself die OHIO-beginsel aangeleer. Dit staan vir:

“only handle it once”. “Hanteer dit slegs een keer!”

Sover moontlik probeer ek dit in alles, wat ek doen, toepas. As ek ’n e-pos oopmaak, beantwoord ek dit daar en dan. As ek beloof het om iets vir iemand te doen, probeer ek dit dadelik doen. Ook probeer ek om enige besluite, wat ek saam met ander mense geneem het, dadelik deur te voer. Anders karring ek maar net weer aan van gesprek tot gesprek, van plek tot plek. Te veel kere in my lewe het ek al kerklike vergaderings, gesprekke en mense, wat die mooiste besluite neem, beleef, maar dan syfer dit leweloos weg in die sand. Almal beplan en dreig gedurig om iets vir die Here te doen, maar min mense doen ooit iets konstruktief om hulle drome in dade te omskep. Dit is sieldodend. Letterlik!


Ook in my geloofslewe probeer ek om die OHIO-beginsel toe te pas. As ek ’n rigtingaanpassing moet maak,wanneer die Here dit vra, doen ek my bes om dit dadelik te begin doen. As ek weet wat reg is voor God en ek doen dit nie, is die grap (én die verleentheid) my eie skuld. Spreuke 3:27-28 leer my ek moenie uitstel tot môre, as ek vandag reeds iets goeds vir ‘n arme kan doen nie. Jakobus 4:17 leer my dat as ek weet wat reg is om te doen en ek doen dit nie, dan sondig ek! Ek weet OHIO is nie altyd moontlik of maklik nie. Nogtans bring ’n OHIO-leefstyl groter eenvoud en vreugde voor die Here en tussen ander. Dit maak die lewe makliker leefbaar.

Comments


bottom of page