Lees Efesiërs 5:25
Om lief te hê moet seker die maklikste en mees natuurlike ding op Moeder Aarde wees. Dit is immers liefde waaroor daar die meeste gesing, geskryf en gepraat word. En tog lyk dit nie of ons die liefde behoorlik regkry nie. Te veel huwelike eindig stukkend op die rotse. Vele wat nog nie geskei is nie, leef intussen soos kat en hond in vyandskap saam. Liefde verloor in veels te veel verhoudings, ten spyte van al ons goeie woorde hieroor!
Paulus se opdrag aan mans is om hulle vroue lief te hê. Nee, dis nie een moontlike keuse tussen vele ander nie. Dis die énigste keuse. Om lief te hê is ‘n Goddelike opdrag. Ons moet! Hoe presies? Ons moet dit anders doen as die wêreld rondom ons. Oral is liefde eintlik ‘n baie selfsugtige affêre. Dit gaan oor selfsugtige belange. Vele het lief vanweë die voordele, wat hul huweliksmaats vir hulle inhou. Hulle status, geld of voorkoms is al waaroor dit gaan. Wanneer dit verdwyn, dan verdamp die liefde ook in dieselfde asem. Ware liefde is egter om jou vrou lief te hê soos Christus Sy kerk liefhet -Hy het Sy lewe hiervoor afgelê. Dis die enigste soort liefde, wat nooit opraak nie, want dit is onselfsugtig. Dit is opofferend en dienend. Hierdie liefde word net meer en beter met die jare.
Gebed:
Laat my my huweliksmaat liefhê soos U, U kerk liefhet, Here Jesus. Amen.
Kommentare