top of page

Om te kry wat ons nie wil hê nie

Roedolf Botha

Ek kyk weer nou die dag een van die episodes van die ou Star Trek-reeks, met William Shatner in die hoofrol. Daar’s so baie wyshede in sommige van hierdie ou reekse! In een toneel moet Captain Kirk vreemde vyandige magte in die buitenste ruimte konfronteer. Daar ontstaan toe konflik met hierdie vreemde wesens en die kort gesprek tussen Kirk en Mister Spock, openbaar net weereens so baie oor die menslike problematiek in ons wêreld.


Kirk sê:

“There it is: War. We didn’t want it, but now we have it.”

Spock reageer:

“It’s curious how frequently you humans achieve what you don’t want.”

Eerstens waarsku die Bybel ons so baie hieroor. Die lewe is maar morsig. So dikwels kry ons resultate, wat ons nooit begeer het nie, nooit wou hê nie. Dis die lewe. Indien dit gebeur, moet ons nie verbaas wees nie. Dis nie omdat God nie omgee nie. Dis ook nie omdat Hy nie vir ons lief is nie. Dis net die lewe.


Maar daar is ‘n tweede realiteit: Soms begeer ons dinge, wat ons dink belangrik behoort te wees, maar wat uiteindelik vir ons die teenoorgestelde gee as wat ons wou hê. Ons begeer en jaag dit na, net om te kry wat ons nie wil hê nie. Wees versigtig wat jy begeer, waarsku die Bybel, want jy kan dit dalk net kry en besef dis nie wat jy wou hê nie. Navorsing wat lewensgeluk betref, het ook al getoon dat mense versigtig moet wees om vir mekaar die advies te gee om “jou hart te volg”, want ons mense is oor die algemeen uiters onsuksesvol in die maak van keuses, wat ons gelukkig maak.


Om te begeer of om nie te begeer nie. - dis die vraag!


Jesus het beter advies. Begeertes is nie verkeerd nie. Begeertes is eintlik daar om vir ons te wys dat ‘n verhouding met God eintlik die beste kan voorsien in wat ons nodig het. Daarom skiet Jesus nie begeertes af nie. Hy sê egter wel dat ons die regte dinge moet begeer. Ons moet Sy koninkryk begeer (Matt 6:33). Dis die beter begeerte. As ons dít begeer, sal ons nie aan die einde van ons lewe, ontnugterd met leë hande sit nie. God en Sy koninkryk sal ons nie teleurstel nie, al voel dit soms tydelik so. Deur geloof in Jesus het ons toegang tot al die dinge wat ons  vir ‘n lewe van vervulling nodig het. 


En die beste van al hierdie dinge is God self!


Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page