Daar word gesê dat God altyd ons gebede beantwoord – soms met ‘n “ja”, soms met ‘n “nee” en soms met ‘n “wag nog”.
Dis nie altyd maklik om tussen die “ja”- en “nee”-antwoorde te onderskei nie, want my eie opinie of begeerte gaan my oordeelsvermoë vertroebel. So het ‘n vriend, wat ‘n gebou wou koop, gedink die Here sê vir hom om sewe maal om die gebou te loop, soos toe Josua die volk om Jerigo gelei het. Hy het egter die fout gemaak om te “hoor” wat hy graag wou hoor en daar het niks van die transaksie gekom nie.
Soms ervaar ek egter ‘n swye van God, wanneer ek moet wag op ‘n antwoord of ingryping van God in die uitdagings, dilemmas en swaarkry van my lewe. Dit is amper ondenkbaar dat ek so lank soos van die geloofshelde in die Bybel moet wag – dis heeltemal te swaar en pynlik.
God se tydsberekening is perfek, al verstaan ons dit nie altyd nie. Heleen, ‘n bekwame jong beroepsvrou, se werkgewer moes die besigheid se deure sluit. Sy het maande lank gesukkel om ‘n aanstelling by ‘n ander firma te kry. Na baie gebed, smeking en worsteling, het die Here die aanstelling voorsien, waarvoor sy so gesmeek het. Die bonus was egter dat sy ook in geloof gegroei het, in Hom wat die verlede, hede en toekoms ken. Sy tydsberekening is perfek. Sy onsigbare Hand was alreeds aan die werk, al kon sy dit nie sien nie.
In hierdie tydperk van onmiddellike bevrediging van ons behoeftes, is wag nie deel van ons ervaringswerêld nie. Die wagproses is waar my geloof en geduld getoets en versterk word, waar ek leer om op die Here te vertrou en om geduldig te wees. My vermoë om op die Here te wag, hou grootliks verband met hoeveel ek Hom vertrou. Om Hom ten volle te kan vertrou, moet ek Hom ken, moet ek weet op wie ek vertrou. Ek kan Hom net ken, indien ek tyd by Hom in Sy Woord spandeer. “Maar elkeen wat op die Here vertrou, kan op Sy groot liefde staatmaak. Die Here sal hom met Sy goedheid toevou.” – Psalm 32:10 DB.
Om te erken dat God se tydsberekening altyd reg is, kan ontsaglike vrede en versekering bring. Die vraag is: Gaan ek God vertrou met hierdie stil of seer tydperke in my lewe - om saam met Hom, volgens Sy pas, te leer, te groei en te verander? Al neem dit hoe lank?
“If the Lord Jehovah makes us wait, let us do so with our whole hearts; for blessed are all they that wait for Him. He is worth waiting for. The waiting itself is beneficial to us: it tries faith, exercises patience, trains submission, and endears the blessing when it comes. The Lord’s people have always been a waiting people.”–
Charles Spurgeon
Comments