top of page
Alet Gardner

Om vir iemand in die bres te tree – ‘n groot verantwoordelikheid

“Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou (NLV: die muur kan herbou) en vir die stad in die bres sou tree (NLV: voor My in die gaping in die muur kan staan) dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.” – Esegiël 22:30  AFR83

 

Bres: ‘n Gat in 'n fort se muur of 'n verdedigingslinie wat oop geskiet isgesellig.co.za

 

Om vir iemand in die bres te tree, beteken dus om iemand te verdedig of te ondersteun. Om selfs te verhinder dat die persoon aangeval of uitgewis word.

 

Soms wys die Here vir my ‘n gaping in ‘n mede-Christen se lewe, ‘n “bres” wat op een of ander manier deur die vyand (die duiwel) geslaan is, of ‘n gaping in die persoon se emosionele of geestelike weerbaarheid, of verkeerde keuses wat hierdie persoon maak of gemaak het. Dis so maklik om dan met ‘n kritiese oog en veroordelende hart daarna te kyk. Maar dikwels is dit iets wat die Here aan my openbaar (vir my wys) sodat ek vir daardie persoon in die bres kan tree, in die geestelike dimensie in die gaping kan gaan staan en vir hom of haar kan bid. Bid dat die Here hom of haar in hierdie oomblik of tyd van weerloosheid, of selfs koppigheid, sal beskerm.

 

Die Here, wat woestyne in waterryke vleie kan verander, droë grond in fonteinryke plekke, is die Een wat harte én omstandighede kan verander. Ek kan in geloof “in die bres gaan staan” en voorbidding doen vir ‘n kosbare familielid of vriend wat die Here se pad byster geraak het, vir daardie egpaar wat albei hulle werk verloor het en bekommerd is oor die versorging van hulle kinders. Daar mag ‘n gesin wees wat swaarkry a.g.v. ‘n kind of ‘n ouer wat ernstig siek is. Dis dalk juis vir hulle wat ek in die bres gaan staan en God se genade oor hulle afbid. 

 

Ek staan egter nie in die bres met net die wapens van voorbidding en geloof nie, maar ook met die wapens van die gawes wat God aan my toevertrou het. As ek die gawe van finansies het, kan ek ‘n ander gesin in hulle finansiële krisis met een of meer maande se kruideniersware bystaan. As die Here my met die gawe van diensbaarheid toegerus het, sal ek nie net vir daardie vriendin wat ‘n onverwagse gesondheidskrisis het, bid nie, maar met skoonmaakmiddels en ‘n hart vol liefde gaan help om haar huis in orde te kry. Ek mag die gawe van barmhartigheid hê en my huis en besigheidsvernuf beskikbaar stel vir daardie jongman wat sy werk verloor het en op moedverloor se vlakte beland het.

 

So, deur voorbidding en ondersteuning, help ons mekaar se laste dra en vervul sodoende die wet van Christus, die wet van werklik omgee. (Galasiërs 6:2)

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page