Ons sien so dikwels dat wanneer ‘n krieketkolwer sy eerste honderdtal behaal het, hy kort daarna uitgevang word. So kort na die euforie van die honderdtal is dit asof sy konsentrasie verminder. Net ‘n oomblik of wat daarna word die speler uitgevang!
So het ek dalk op geestelike gebied ‘n groot persoonlike oorwinning behaal, waarop ek met trots en tevredenheid kan terugkyk. Dit is egter potensieel juis dié area waar ek in die toekoms kan struikel. Wanneer ek gerus raak, my skanse laat sak en nie meer waaksaam is wat hierdie spesifieke saak betref nie, is dit dikwels juis dáár waar ek in die vyand se strik trap.
Hierdie is een van die kosbaarste lesse uit die dagstukkies van Oswald Chambers wat ek nóg geleer het. Dis net so jammer dat ‘n mens dit so maklik vergeet, veral nadat jy ‘n geestelike hoogtepunt beleef het. ‘n klassieke voorbeeld is die stryery in die motor op pad huis toe na kerk - al die seën van die kerkdiens is by die venster uit! ‘n Graad erger is wanneer ek na ‘n wonderlike seminaar of kerkkamp by die huis kom en my humeur oor die kleinste dingetjie verloor. Nog erger is my kwesbaarheid en feilbaarheid, wanneer ek tot bekering gekom het of opnuut aan die Here oorgegee het. Dis hier waar ‘n baie swak keuse betreffende ‘n finansiële transaksie of ‘n onverstandige verhouding, wat my getuienis kan kelder, die Here se Naam oneer kan aandoen.
Oswald Chambers waarsku teen selfgenoegsaamheid, om te dink dat ek pas suksesvol deur ‘n groot krisis is en nou teen enige versoeking bestand sal wees. Dis juis hier waar ek ekstra waaksaam moet wees.
Ook wanneer dit kom by sterk persoonlike eienskappe of geestelike gawes, is dit raadsaam om te onthou dat onbewaakte sterk punte kan veroorsaak dat ek nie die slaggate van versoeking betyds raaksien nie.
Unguarded strength is actually a double weakness, because that is where the least likely temptations will be effective in sapping strength. The Bible characters stumbled over their strong points, never their weak ones.”
Oswald Chambers, My Utmost for His Highest.
Comments