top of page

Ongehoorsaamheid maak ons broos

Roedolf Botha

Een ding wat ek by ‘n vorige kollega geleer het is dat God altyd goeie redes het waarom Hy vir ons opdragte gee, al verstaan ons nie altyd wat dit is nie. Ek onthou dit nog soos gister. Hy het gesê:


“Roedolf, die Here eis gehoorsaamheid van ons, omdat Hy ons wil seën. Hy doen dit vir ons eie welstand. Hy word juis verheerlik, wanneer ons floreer. Ons rol is om Hom te vertrou en te gehoorsaam.”

Ek het weer aan hierdie stelling gedink, toe ek in Galasiërs 5:16-17, 24 lees dat ons ons begeertes onder leiding van die Heilige Gees moet stel:


“Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie ... Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig.”

Ek het nog altyd gewonder oor hierdie woorde van Paulus. Waarom mag ons nie begeer nie? Wat is so gevaarlik aan ons begeertes? ‘n Sekulêre filosoof, Ryan Holiday, maak toe ‘n stelling wat die vraag vir my so effens beantwoord het. Hy’t gesê:


“If you want too many things or circumstances to be a certain way, you are fragilizing yourself.”

Met menslike begeertes, as sulks, is daar niks verkeerd nie. Ons is mos emosioneel aanmekaar gesit, met diep verlangens. Ons begeertes is egter veronderstel om ons na God te lei. Maar die punt is ook dat die lewe deurmekaar is en nie omgee oor ons begeertes nie. Dis geensins daarop ingestel om my en jou begeertes te bevredig nie. Indien jy dus te veel begeertes vir te lank, op te veel maniere koester, vir te lank, op te veel maniere, dan berei jy jouself voor  vir ‘n massa teleurstellings. Jy kan nie teleurgestel word, indien daar geen begeerte of verwagting was nie. Hoe meer onrealisties en hoe meer jy begeer, hoe meer teleurstelling gaan jy beleef. Begeer jy egter minder, verminder jou ontnugterings aansienlik! GK Chesterton voeg nog ‘n gedagte by: ”There are two ways of getting what you want. The one way is to acquire more and more, the other is to desire less.”


Paulus se punt is dat, aangesien ons begeertes reeds saam met Jesus gekruisig is toe ons tot geloof gekom het, ons nou prakties ons begeertes onder die leiding van die Gees moet stel. Die Gees is immers die Goddelike projekbestuurder, wat Jesus se heerskappy in realiteit in ons lewens omskakel. Wanneer ons ons begeertes dus onder sy leiding stel, begeer ons eintlik slegs een ding en dis om Goddelike vrug te dra wat Jesus verheerlik. So iemand kan nooit teleurgestel word nie, want God sal self Sy vrug in ons voltooi. Wanneer Jesus al is wat ons begeer, dan kan ons nie ontnugter word nie. Ons vrywaar onsself van broosheid, ontnugtering en teleurstelling.


Met Jesus as hoogste begeerte kan jy dus slegs wen.


תגובות


התגובות הושבתו לפוסט הזה.
bottom of page