top of page
Marietjie Joubert

Ongelowige Thomas, of is dit gelowige Thomas?

Lees Johannes 20:26-31


Ons ken almal die spreekwoord: daardie persoon is ‘n ongelowige Thomas. Of, sien is glo. Beide hierdie spreuke verwys direk na Thomas, in Johannes 20. Dis tog interessant dat ‘n mens makliker iemand se negatiewe foute onthou as die positiewe punte, waaraan hulle werk, of waarmee hulle die negatiewe oorkom het. Thomas het nie geglo Jesus het opgestaan nie. Hy wou sy vingers in Jesus se wonde druk voordat hy sou glo. Hy het Jesus ook verloën deur te ontken dat hy Hom geken het.


Toe Jesus na Sy opstanding aan die dissipels verskyn, het Jesus Thomas uitgenooi om sy vingers in Sy wonde te steek!  Net daarna s Jesus vir Thomas dat hy nie moet ongelowig wees nie, maar moet glo! Dit moes vir hom baie sleg gewees het om so voor almal aangespreek te word.


Jesus sê dan die bekende woorde, dat die wat nie gesien het nie en tog glo, geseënd sal wees. Gedurende hierdie tyd van die jaar, wanneer ons Pinkster en Hemelvaart vier, kan ons jubel en juig, want ons glo, al het ons nie gesien nie! Ons hoef nie ons vingers in Jesus se wonde te steek nie. Ons glo, al was ons nie daar nie! Ons glo, want Hy het vir ons sondes gesterf. Ons glo en die Heilige Gees woon in ons om ons voortdurend aan God se goedheid te herinner.


Thomas leef na hierdie insident as die gelowige Thomas. Kom ons onthou hom ook vir sy geloof en vergeet dat hy amper sy geloof verloor het.


Maak ‘n punt daarvan om jou lewe gedurende hierdie wonderlike tyd van die jaar opnuut aan die Here toe te wy. Om te glo sonder om te sien, is ‘n wonderwerk, wat die Heilige Gees daagliks in jou lewe laat gebeur. Juig daaroor en getuig daarvan dat jy glo, al het jy nooit gesien nie! Die Here leef en jy leef vir ewig deur Hom!

Kommentare


Die Kommentarfunktion wurde abgeschaltet.
bottom of page