top of page

Ons heg waarde aan ander dinge

Roedolf Botha

Wanneer Jesus jou lewe verower en wanneer Sy Goeie Nuus die pad na jou hart vind, dan sien jy ewe skielik dinge anders. Jy leef anders in hierdie selfobsessiewe kultuur van ons. Dis egter moeilik, al ken jy Jesus, om jou eie fokus te behou in ‘n kultuur, wat behep is met vreemde dinge. Min denkers en skrywers in die geskiedenis kon dit so goed uitbeeld soos JRR Tolkien. In die derde fliek, wat oor sy boek, The Hobbit, gemaak is, is daar ‘n toneel, wat so effektief uitbeeld hoe ons wel die mooi te midde van soveel gemors, gemengde motiewe en korrupsie in ons wêreld kan najaag.


Die hoofkarakter in The Hobbit is ‘n karakter met die naam van Bilbo. Hy is ‘n ietwat naïewe, maar goeie karakter, wat altyd anders dink en optree as die res van die karakters rondom hom. Hy is uiters lojaal aan sy vriende en openbaar verskeie kere onverwagte dapperheid, wanneer hy diegene naaste aan hom moet beskerm.


In hierdie fantasiefliek is hy vriende met ‘n dwergstam, wat daarop uit is om ‘n bose draak dood te maak en hulle skatte terug te neem, wat die draak jare vantevore van hulle gesteel het. Dit gebeur toe alles soos hulle beplan het en die dwergleier kry weer sy troon met al sy skatte terug. Wel, amper al die skatte. Daar was een edelgesteente, wat vir die dwerge uiters belangrik was. Hulle het dit The Arkenstone genoem. Vir dae soek hulle met ‘n koorsige obsessie hierna. Hoe langer hulle egter soek en niks kry nie, hoe meer angstig en obsessief raak almal, veral Thorin, die leier van die dwerge. Later begin almal kompeteer om meer mag te bekom en agterdog ontstaan by die dwerge, veral by Thorin. Hy raak suspisieus dat iemand die Arkenstone in besit het en dit wegsteek vir hom. Op ‘n stadium sit Bilbo so op sy eie en staar na iets in sy hand. Niemand weet egter waarna hy staar nie. Die suspisieuse Thorin sien dit en konfronteer vir Bilbo oor wat hy in sy hand hou. Bilbo wil dit eers nie wys nie, maar Thorin dreig hom egter totdat Bilbo sy hand stadig oopmaak en wys wat daarin is ...


‘n Akker.


Hy het ‘n akker langs die pad opgetel en dra dit al dae in sy sak. Thorin was stom van verbasing. Wat wil Bilbo met so ‘n snaakse, vreemde, waardelose ding soos ‘n akker doen? Maar ‘n akker was wat vir Bilbo waardevol was. Hy het gedink hy gaan dit oppas en in sy tuin plant, wanneer hy weer terug is by die huis is. Hy het homself bitter min gesteur aan die soektog na die juwele en edelgesteentes. Terwyl almal die Arkenstone en ander skatte najaag, het Bilbo die akker bewonder. Hy het oor die lewe, wat dit kan bring, en die skoonheid, wat dit in sy tuin sal bring wanneer hy eendag terug by die huis is, gedink.

Bilbo openbaar egter deeglik hoe ons as Jesus-volgelinge in die wêreld moet wees. Terwyl almal rondjaag en soek na meer dinge, foefies en skatte, moet ons die akker van die evangelie bewonder. (Tolkien het natuurlik ook geweet dat ‘n akker een van die simbole van die evangelie en die kerk in die eerste eeue na Christus was. Dit was ook ‘n simbool van lewe.)


Die wêreld bewonder mag, sukses en skatte.


Ons bewonder Jesus.


Hý is ons Arkenstone.

Comments


bottom of page