top of page

Ons hoef nie koeëlvas te wees nie

  • Stephan Joubert
  • 10 hours ago
  • 2 min read

“Na al die jare moes ek meer koeëlvas gewees het teen die lewe se stampe en stote. Ek moes kritiek beter verwerk het. Mense se rugsteke moes my nie so seergemaak het, soos wat dit soms doen nie, maar ek kry dit nie aldag reg nie.” Dit sê ek vir ’n leraarvriend saam met wie ek iewers koffie gedrink het. Toe leer hy my ’n kosbare les: “Jy hoef regtig nie koeëlvas te wees nie. As dít gebeur, het jy te hard geword.” Hierdie woorde het my opnuut laat besef nie een van ons is veronderstel om onbreekbaar te wees nie.


Ons almal is broos en breekbaar. Ons is nooit so sterk, of so in beheer van sake as wat ons gedink het nie. Ons is net mense. Ons is feilbaar. Ons is swak en klein. Maar hier’s goeie nuus: Ons hoef nie koeëlvas te wees voordat die Here ons eers gebruik nie. Alles behalwe. Hy gebruik ook ons weerloosheid om Sy doel met ons lewens te bereik. Hoor hoe verwoord Paulus dit in 2 Korintiërs 4:7-10: (NNT): “Ons is soos kleipotte, waarin hierdie kosbare skat van die evangelie gestoor word. Ál die krag en ál die oorvloed behoort aan God. Dit kom alles van Hom af, nie van onsself nie. In alles wat ons doen, beleef ons teenstand. Nogtans spat ons lewens nie uitmekaar nie. Ons ken nie al die antwoorde nie. Nogtans is ons nie totaal en al radeloos nie. Ons word vervolg. Nogtans word ons nie deur God in die steek gelaat nie. Ons word onderstebo geloop. Nogtans word ons nie stukkend gebreek nie. Ons dra altyd Jesus se eie lyding en dood saam met ons in ons eie lyf. Ons is gedurig in lewensgevaar, net soos Hy. Nogtans word die nuwe lewe van Jesus ook sigbaar in ons eie lyf.”

Komentáře


Komentáře byly vypnuty.
bottom of page