Die baas is vandag in ’n slegte bui, so almal moet maar ligloop. So praat mense wanneer hulle die baas onder ’n donderwolk sien inkom (gewoonlik op ’n Maandag). Oral word mense geviktimiseer deur die buie van ander. Indien my man vanoggend met die verkeerde voet uit die bed opgestaan het, dan loop ek maar op eierdoppe voordat hy môre-oggend weer probeer. Meer as dit: dis asof mense se besluite en aksies dikwels deur hulle eie buie en gemoedstoestande beheer word.
In die fliek Dune moet die jong Paul Atreides opgelei word in ’n tegniese gevegskuns, sodat hy eendag as koning in ’n gevaarlike wêreld homself kan handhaaf. In ’n bepaalde toneel in die fliek is hy en sy afrigter, Gernie, besig om te skermveg met mekaar, maar Paul bevind hom duidelik nie in die regte bui vir hierdie oefening op daardie oomblik nie. Hy sê dit ook sommer so:
I guess I’m just not in the mood.
Gernie wys hom egter skerp tereg:
Mood!? What’s mood got to do with it?! You fight when the situation asks for it! Now fight!
Dit herinner my aan die skrywer Og Mandino, wat in sy boek The Greatest Salesman in the World gesê het:
When I control my moods, I control my destiny.
Al voel ons dus hoe vrot en in ’n slegte bui, moet ons vir onsself kan vra: Mood!? What’s mood got to do with it?! Ons kan Jesus nie net volg wanneer die bui ons pas nie. Ons kan nie mense selfloos liefhê, slegs wanneer ons met die regte voet uit die bed opgestaan het nie. Ons kan nie net ophou sondig wanneer ons die dag die regte gevoel kry nie. Ons kan nie begin bid of Bybel lees eers wanneer ons gemotiveerd voel nie. Ons kan nie wag vir ’n gevoel van dapperheid voordat ons uit ons gemaksone beweeg vir die Here nie.
Ons moet die kruis voor oë hou en die regte ding doen, ongeag ons gevoelens en buie. Gevoelens is ’n wonderlike gawe van die Here, maar gevoelens kan ons gevange hou. Buie kan ons eindbestemmings beheer indien ons dit nie onder beheer van die Heilige Gees plaas nie. Onder beheer van die Gees kan ons ons lewensmaat liefhê, al voel ons nie liefde op daardie gegewe oomblik nie. Onder beheer van die Gees kan ons grense oorsteek na ander wat nie soos ons is nie, al voel ons onseker. Onder beheer van die Gees kan ons Jesus volg waarheen Hy ons ook al lei, al voel ons nie die dapperheid wat ons benodig nie.
Onder beheer van ons buie sal ons egter nooit die pad van die kruis kan stap nie.
Onder beheer van die Gees is ons méér en sterker as ons buie!
Komentarze