top of page
Stephan Joubert

Ons is nie suurpruime nie

“Tjips, hier kom die predikant.” Hierdie flou opmerking moes ek soms aanhoor toe ek nog ’n gemeenteleraar was. ’n Ma het selfs een keer tydens huisbesoek vir haar dogtertjie gesê die dominee kom haar vang, omdat sy stout was. Dit was goor. Vandag nog weier ek om te voldoen aan sulke morele waghondrolle. Nie een van ons is geroep om geestelike arrestasiebeamptes te wees, wat mense moet uitsorteer of regsien nie. Ongelukkig is sommige godsdienstiges steeds gek oor sulke rolle. Van vroeg tot laat snuffel hulle sondes en morele probleme uit. Dan preek, praat en skryf hulle verwoed daarteen. Hulle weet altyd meer van alles en almal, teen wie hulle gekant is, as die evangelie waarvoor hulle moet opstaan.


Sonde-uitsnuffelaars was nog altyd op die toneel. Onlangs sien ek juis op X ‘n gesprek, wat Brian Zahnd, ’n Amerikaanse leraar, met so iemand gevoer het. Dié persoon het gevra hoekom hy nie meer teen preek sonde nie. “Okay, tell me your sin and I’ll try to preach on it,” antwoord Brian. Die man sê toe hy bedoel daar moet meer oor ’n sekere sonde gepreek word. “Is that your sin?” vra Brian. “Nee,” kom die antwoord. Toe vra Brian: “Well, why would you want to hear a sermon on someone else’s sin?”


Ons is fynkenners van die Here se wil, nie kenners van sonde nie. Ons is beliggaamde oorvertellers van Sy goeie nuus. Nee, ons is nooit traak-my-nie-agtig oor verkeerde dinge nie, maar ons ontaard nooit in morele suurpruime nie. Dan gee ons die evangelie ’n slegte naam.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page