top of page

Ons skuil te veel agter leierskapsmodelle

Roedolf Botha

Mense en instansies is skepties oor leierskapsmodelle, waar die leier oor baie mag beskik. Dis baie verstaanbaar. Geen mens wil toesien dat slegte dele van die geskiedenis herhaal word nie. Niemand wil toekyk hoe leiers hulle mag misbruik nie. Ons geskiedenis is immers besaai met voorbeelde, waar leiers die grense van hulle eie mag oorskry het. Kyk maar na Hitler, Stalin en Mao Tse-tung. Ook nader aan ons eie lywe, in ons eie samelewing sowel as in die kerkwêreld word die skandes van selfbehepte en selfobsessiewe leiers konstant blootgelê.


Ek is egter nie seker of die oplossing, wat hiervoor gebied word, die regte antwoord is nie. Uit vrees vir diktatorskap word nou vir “plat” strukture van invloed, of “deelnemende” vorme van leierskap gekies, waar die visionêre leier van enige formele vorme van gesag ontneem word om ‘n koninkryksdroom te laat realiseer. Vir elke klein besluit moet goedkeuring van die direksie of kerkraad verkry word. Administratiewe protokolle word nou geïmplementeer sodat die leier beheer kan word. Dit wat hulle nie wil hê hy moet doen nie, doen hulle nou met hom. So word ook goeie leiers se kreatiwiteit en vryheid van beweging aan bande gelê. 


Die term “diensbare” leierskap word ook voorgehou as die teenpool van sterk leierskap, asof diensbare leiers geensins met mag en invloed behoort te werk nie. Nee, ons werk nie met ‘n gemeenteleiermodel nie - ons werk met diensbare leierskap, word daar geredeneer. Asof gemeenteleiers nie diensbaar kan wees nie. Die ironie is dat die mees diensbare leiers, wat ek al teëgekom het, nederige leiers was wat in uiters outokratiese omgewings gedien het (soos in sommige Afrika-kontekste). Diensbare leierskap beteken nie magtelose, onseker of swak leierskap nie. Dit beteken ook nie dat leiers nie kan beskik oor sterk leierskapsvaardighede en dit beoefen nie. Wat ‘n leier in my oë diensbaar maak, is nie die hoeveelheid guns of invloed wat hy geniet , of die posisie wat hy beklee, of die besluitnemingsmag waaroor hy beskik nie, maar dat hy mag gebruik om ander te bemagtig. ‘n Diensbare leier gee sy mag weg, omdat hy nie daaraan verknog is nie, net soos wat jy sekere ryk mense kry wat nie materialisties is nie.


Ons moet ook nie die fout maak om te dink dat wanneer daar in ‘n meer demokratiese sisteem gewerk word, die mag werklik verdwyn nie. Mag is oral aan die werk, ook in platter leierskapstrukture. Die filosoof, Michel Focoult, het daarop gewys dat in sekere, meer “demokratiese” kontekste, die mag slegs ondergronds gaan. Dis steeds teenwoordig. Dit verdwyn nou buite die gesigsveld van almal, behalwe die persoon, wat mag begeer. Dit kan steeds woed in die hart van ‘n magsbehepte predikant of hoof uitvoerende beampte woed. Wat die saak egter nou vererger, is dat die mag onsigbaar is. Die leier kan dus steeds sy mag uitoefen, maar nou doen hy dit subtiel, agteraf en manipulerend.


My opinie is dat ons ‘n tekort aan karakter by leiers met leierskapmodelle probeer oplos. Ek dink nie dit werk nie. Leiers moet met mag vertrou kan word. Mag en invloed is die speelveld van ‘n leier. Mag en invloed hou egter groot gevaar ook in.

Commenti


I commenti sono stati disattivati.
bottom of page