Twee musikale genieë, Fritz Kreisler en Sergei Rachmaninoff, moes op ’n keer saam in Carnegie Hall optree. Halfpad deur Beethoven se Kreutzer Sonate, het Kreisler sy plek op die bladmusiek verloor. Toe fluister hy benoud: “Where are we?” Dadelik het Rachmaninoff geantwoord: “In Carnegie Hall.” Nou ja, grootmeesters of te nie, almal van ons verloor een of ander tyd ons plek.
Soms verloor ons ons plek. Soms verdwaal ons so ernstig dat niemand behalwe die Here ons kan help nie! Gelukkig ken Hy altyd ons koördinate. Hy weet waar ons is, wanneer ons behoorlik die spoor byster geraak het. Nooit is ons van Sy bladsy af nie. Of buite Sy opvangsgebied nie. Op enige plek kan Hy ons opspoor. Orals en altyd weet God waar ons is. Nooit loop ons so diep die donkerte in dat die goeie Herder se hemelse soeklig ons spore nie kan vind nie. Hy kan dit nie uitstaan dat ons soek raak nie. Daarom is Jesus bereid om na ons te soek totdat Hy ons kry. Hy ken ons jongste ruitverwysings, ook hier in die feesseisoen. Hy het ’n “dropped pin” in ons elkeen se lewe. As Hy ons raakloop, tel Hy ons dadelik op Sy skouers en dra ons terug na waar ons hoort. Dan vat Hy ons na Sy Vader se feessaal toe. Dan is dit feesviertyd. Nee, nie regsientyd nie. Of vasvattyd nie. Feestyd saam met die Here wag op elke verdwaalde, wat deur Hom opgespoor is.
Comments