My ma het nooit gepraat oor preke wat sy in die kerk gehoor het nie. Daar was genoeg ander mense wat dit namens haar gedoen het, volgens haar mening. Eenkeer, nadat hulle saam met ’n leraar gekuier het, het sy hardop gewonder of die dominee ooit normaal kan praat sonder om vir almal te preek. Sommiges verander enige gesprek of kuier in ’n ongevraagde preekgeleentheid. Tekste soos 2 Timoteus 4:2 word dikwels gebruik om dit te regverdig. Paulus skryf hier: “Maak God se woord bekend. Doen dit wanneer die tyd reg is hiervoor, maar ook wanneer die tyd nie reg is hiervoor nie. Vermaan! Waarsku! Bemoedig! Doen dit alles met groot geduld terwyl jy mense onderrig” (NNT).
Die evangelie is soms ongemaklik en ontydig... veral vir diegene wat dit bekend maak! Daarom moet, volgens Paulus, die regte onderrig-geleenthede hiervoor aangewend word. Hy sê nooit ons moet ons geloof ontaktvol op ander afdwing nie (net soos wat ander se ongeloof ook nie eensydig op ons opgedring moet word nie!). Ontaktvolheid doen meer skade as goed. Ander mense is nie objekte wat maar moet vat wat hulle van ons kant af kry nie. Kom ons doen die evangelie reg. Kom ons leef heel eerste reg, soos wat die Here vra. Dan praat ons reg oor Hom deur ons lewe. Ons liefde vir die Here en vir ander is reeds ’n lewende preek. As ons reg leef, sal ons weet hoe om op die regte manier met ander oor ons geloof in die Here te praat.
Comments