
Een van ons mentors het ons geleer om soos koning Josafat die koor en die bidders voor die weermag te laat uitstap en, terwyl die koor die Here loof, het Hy die oorwinning gegee. (2 Kronieke 20) Ek het op ‘n dag gesien hoe my buurvrou die raad prakties toepas, toe sy per abuis antibiotika gedrink het, waarvoor sy allergies was. Hygend na asem het sy in my voorportaal gesit en die Here aanhoudend geprys, terwyl ek die dokter bel en reël dat sy behandeling kan kry. Sy het die Here geloof en prys, terwyl daar nie sekerheid was dat sy sou oorleef nie.
Om God te loof en prys vir wie Hy is, terwyl my omstandighede beroerd lyk en ek bedremmeld voel, voel en lyk totaal kontra-intuïtief. Wat egter gebeur, is dat ek met my loflied sy teenwoordigheid in my situasie inbring en toenemend daardie vrede ervaar, wat alle verstand te bowe gaan. Ek kan selfs onverklaarbare krag ervaar om te doen, wat ek moet doen, terwyl daar geen uitkoms in sig is nie. Die oorwinning lê natuurlik nie altyd in veranderde omstandighede nie, maar in die feit dat ek my geloof kon behou en inderwaarheid kon groei in geloof.
Sommer vroeg na my nuwe oorgawe aan die Here in 1975 het ek Merlin Carothers se Prison to Praise gelees. Toe ons kort daarna ‘n hartseer huwelikskrisis beleef, het ek toegepas wat Carothers leer: ek het al die lofliedere, wat ek geken het, so tussen trane heen gesing, terwyl ek met my dagtaak besig was. My ervaring is dat ‘n mens nie vir ‘n tyd lank lofliedere kan sing sonder om daardeur opgebeur te raak nie.
And do not be worried, for the joy of the Lord is your strength and your stronghold. 8:10b AMP
Die koortjie wat hierdie woorde bevat, was naderhand een van ons kinders se gunsteling liedjies: “Die vreugde van die Here is my krag!” Natuurlik veral wanneer ‘n krisis verby was. Ons 9-jarige dogtertjie het nou wel nie van vreugde gesing, nadat sy groenhoutbreuke in albei voorarms opgedoen het, toe sy van ‘n perd afgeval het nie. Sy het wel met arms omhoog in die swembad gedans, nadat die gips van albei armpies afgekom het: “The jo-oy of the Lo-ord is my strength!”
Comments