top of page
Stephan Joubert

Sagmoedigheid

Lees Galasiërs 5:23


Woede is ‘n kenmerk van vele mense se lewe. Ons eie land se omstandighede bring soms die heel slegste in mense te voorskyn, waarvan dinge soos padwoede, frustrasie en aggressie daaglikse bestanddele is. Dit maak van vele mense onvergenoegde, onvriendelike, selfs gevaarlike wesens. Hulle verander al hoe meer in lopende en pratende tydbomme, wat enige oomblik kan afgaan en ontplof. Moenie aan hulle stamp of paaie met hulle kruis nie, dan het jy groot moeilikheid. Dan is probleme jou voorland. 


Sagmoedigheid, daarenteen, is daardie wonderlike kwaliteit, wat die Gees in ons werk, wat aggressie en woede uit ons binneste haal. Net Hy kan ons oormaak om sagter en meer minsaam te wees. Dit gebeur, wanneer die Heilige Gees ons soos klei in Sy eie hande optel en ons begin brei met Sy liefde en deernis. Dan werk Hy tussendeur Sy hart in ons eie in. Dan troef Hy ons hardheid met Sy sagtheid. Dan vervang Hy ons rotsagtige harte met brose, breekbare harte. Dan breek ons harte ,wanneer ander mense rondom ons seerkry. Dan huil ons, wanneer trane oor ons vriende en geliefdes se wange rol. Dan is ons taal sag en deernisvol, wanneer ander rondom ons fouteer. Kortom, dan verander ons in sagte salf en in koelte vir ander om in te kom skuil. Dan vloei die skoonheid van die Here self deur ons na ander toe. 


Gebed:

Laat U hemelse sagtheid ook my hart uitplavei, asseblief, Hemelse Vader. Amen.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page