Lees Galasiërs 5:22
Selfbeheersing, wat is dit? Selfbeheersing is ...
Wat Josef gehad het, toe Potifar se vrou hom tot sonde in die bed saam met haar wou verlei. (Genesis 39) Hy het nee gesê en weggekyk. Hy het gekies om sy rug te draai op dit wat lynreg teen sy God se wil ingaan.
Wat Dawid in 1 Samuel 24 openbaar het, toe hy koning Saul se lewe gespaar het, toe hy hom nie doodgemaak het toe hy onwetende in ‘n grot enkele treë van Dawid af was nie. Omdat Dawid God se wil geken het en sy eie behoefte aan weerwraak ondergeskik aan God gestel het, het hy, lynreg teen sy soldate se advies in, gekies om Saul se lewe te spaar.
Wat Jesus tydens Sy kruisiging keer op keer openbaar het deur nie Sy spotters en verhoorders met skerp antwoorde uit te daag, of toe te gee aan die skare om van die kruis af te klim nie. Jesus was bereid om Sy Vader se pad van redding enduit te stap.
Selfbeheersing is om my eie behoeftes, veiligheid, gerief, planne, beroep en wat nog alles ondergeskik aan God te stel. Dis om teen alles in nee te sê vir my eie begeertes en selfsug. Dis om tot in die dood toe getrou aan God te wees deur Sy wil bo alles te laat seëvier.
Gebed:
Laat selfbeheer in al U volgelinge se lewens wen, Jesus Christus. Amen.
Comments