Die Oxford English Dictionary definieer selfbejammering as “excessive, self-absorbed unhappiness over one’s own troubles”. Selfbejammering begin wanneer ek ongelukkig is met my omstandighede en ek voel ek is onregverdig behandel. Ek voel niemand waardeer my nie, almal is teen my, niemand verstaan my nie. Een oomblik bedien ek ander nog met liefde en opoffering, dan word ek ‘n martelaar waar ek seergemaak en bitter is. Al my harde werk en toewyding word nie raakgesien of waardeer nie.
Ons lees in Jona 4 hoe Jona hiermee sukkel. Hy sit buite die stad Nineve, nadat hy God se oordeel oor die stad aangekondig het en hulle hul bekeer het. Dit is warm, die son bak op sy kop en hy is kwaad, kwaad dat God die stad gespaar het en hy hom nou in sulke omstandighede bevind. Al waarop hy fokus is sy eie omstandighede en swaarkry.
Ek gaan in tye van swaarkry vir myself jammer voel, as ek my oë van die Here afhaal, as ek op myself, my regte en my swaarkry fokus en voel ek verdien beter. Wanneer ek aan God se goedheid vir my begin twyfel, twyfel dat Hy my beste belange op die hart dra.
Dawid het alle rede gehad om homself jammer te kry en om in selfbejammering te verval. Hy is onskuldig vervolg, verraai en moes konstant voor sy agtervolgers vlug. Tog sien ons dit nie, maar eerder dat hy keer op keer sy hart teenoor die Here oor sy swaar omstandighede uitstort.
Eerder as om op myself en my probleme te fokus en myself jammer te kry, is dit ook waarheen ek met my probleme moet gaan – na my Hemelse Vader. Dit is waar ek oor my gevoelens van hartseer en frustrasie, oor my seer omstandighede eerlik kan wees. Daar waar ek tyd in Sy teenwoordigheid in die Bybel spandeer, ontdek ek Bybelse waarhede en kosbare beloftes van getrouheid te midde van krississe en telurstellings. Daar word ek herinner aan al die kere, wat Hy my gedra en my bygestaan het. Wanneer ek kantaantekeninge in my Bybel maak, kan ek later sien hoe Hy geantwoord het. As ek al die oorvloedige seëninge besef wat ek reeds ontvang het, kan ek nie anders as om dankbaar te wees en die sondige selfbejammering te belei nie.
Uit dankbaarheid kan ek dan ander gaan dien. Wanneer ons die fokus van onsself afhaal en ander onselfsugtig dien, is dit moeilik om aan te hou jammer voel vir onsself.
“If we indulge in the luxury of misery and give way to self-pity, we banish God’s riches from our lives. No sin is worse than self-pity, because it erases God and puts self-interest on the throne. It opens our mouths to spit out streams of complaint, and our lives become constantly craving spiritual sponges, with nothing lovely or generous about them”. Oswald Chambers “My Utmost for His Highest”
Comments