Teks: Psalm 127:2
Die Here sorg vir ál Sy kinders. Hy dra alles, wat ons benodig vir ons aan, selfs tot in ons slaap, soos wat Psalm 127 helder en duidelik vir ons elkeen sê. Dit vra egter waagmoed om hierdie woorde te glo. O ja, dit vra ook baie wysheid. Hierdie teks gee nie aan ons ‘n lisensie om luilekker rond te lê en om niks te doen, terwyl God heeltyd vir ons moet aandra wat ons benodig nie. So ‘n ingesteldheid noem ‘n mens luiheid. Dit is nie wat hierdie psalm kommunikeer nie. Dit gee nie aan ons ’n niksdoenlisensie nie.
Psalm 127 bied aan ons die wonderlike versekering dat God op hoogte is met al ons omstandighede. Dit gee aan ons die versekering dat Hy op Sy eie wonderlike maniere vir ons sorg. Nooit word ons aan onsself oorgelaat nie. God is nooit afwesig in enige van Sy kinders se lewens nie. Hy is nooit met belangriker dinge elders in die wêreld besig nie. Onverdiend en betyds gee Hy vir ons elkeen wat Hy weet ons nodig het om tot Sy eer te leef. Terloops, het jy in jou eie lewe opgemerk dat God vir ons gee wat Hyself besluit ons nodig het en nie wat onsself dink ons benodig nie. Die rede hiervoor is dat ons te veel onnodige dinge nodig het. Ons eie behoeftes is gewoonlik selfsugtig. God ken egter die verskil tussen ons eie selfsugtige behoeftes en ons ware behoeftes en nood. Laasgenoemde dra Hy graag in ons slaap vir ons aan. Glo dit en leef.
Gebed: Dankie, Heer, dat Uself vir ons op wonderlike maniere sorg. Ek eer U vir U goedheid.
Commentaires