top of page

Skuldig!

Stephan Joubert

Lees Johannes 16:8


Skuldig! Dis die Gees se aanklag jeens die nie-gelowige wêreld. Elkeen, wat Christus die rug toekeer, word deur Hom skuldig bevind. Dis die Gees se werk om namens die hemel waarheid en leuen te onderskei. Hy ken die verskil tussen navolgers van Christus en diegene, wat Hom verwerp, die beste van almal.


Maar die Heilige Gees doen meer as om mense aan te kla. Volgens Jesus oortuig die Gees mense ook dat hulle in die regte verhouding met God kan kom. Anders gesê, die Heilige Gees is nie maar net ‘n aanklaer nie, Hy is ook ‘n redder. Hy maak die blindes se oë oop. Hy laat die dowes se ore hoor. Die Heilige Gees laat skuldiges vrykom – dis diegene, wat toelaat dat Hy hulle leer om Jesus se ware identiteit te ontdek.


Wat ‘n fenomenale aanklaer is die Gees nie. In Sy hofsaal kan niemand wegkom weens tegniese punte, soos in party aardse howe nie. Nee, die Gees het al die feite oor ons elkeen se lewe. Vir Hom kan jy nooit ‘n rat voor die oë draai nie. Hy weet alles! Hy kyk tot diep in ons hart. Daarom is dit beter om skuld te erken en jou bankrotskap by Hom te bely. Roep Christus dadelik aan. Dan sien jy dadelik die Gees se ware kant, ook sy reddingskant! Dan ervaar jy hoe die vonnis teen jou net daar opgehef word.


Gebed:

Laat vele skuldiges vandag onskuldig by die hemelse hofsaal uitstap, omdat hulle Christus aangeroep het, o Heer. Amen.

Comments


bottom of page