
“Wie is my naaste?” Wie van ons ken nie hierdie vraag nie. Dit word in Lukas 10 deur ’n skrifgeleerde aan Jesus gevra . Toe antwoord Jesus hom deur die gelykenis van die Samaritaan. Hy vertel by name vir hom van ‘n man, wat op die pad tussen Jerigo en Jerusalem deur rowers aangerand en toe net daar agtergelaat is. ’n Priester en ’n Leviet het later by hierdie arme man verbygestap, maar hulle het hom nie gehelp nie. ’n Samaritaan het egter gestop en gehelp. Nadat Jesus hierdie verhaal vertel het, vra Hy vir die skrifgeleerde: “Wie is die naaste van hierdie man, wat onder die rowers deurgeloop het?” Wat ’n teenvraag! Jesus verander die gesprek oor jou naaste dus vanaf teorie na praktyk en vanaf ‘n toeskouerperspektief na dié van die slagoffer se belewenis. Met ander woorde slegs die ontvangers van ander mense se hulp kan op die ou end die regte antwoord gee op die vraag: “Wie is my naaste?”
Al kan ons nie self besluit wie is ons naaste nie, het ons altyd ’n morele verpligting teenoor ander. Ons kom dit na deur daagliks met die omgeehart van die Samaritaan te leef. Dan staan onsself enige oomblik die kans om ’n naaste te word vir iemand, wat ons pad kruis.
Comments