‘n 84-jarige vriendin van ons is ‘n wonderlike voorbeeld van stap saam met Jesus: sy is vol vertroue en blymoedigheid. Sy moes ‘n paar jaar gelede toetse ondergaan wat haar totaal uitgemergel het. Waar sy uitgeput op die badkamervloer gelê het, het sy steeds met die Here gesels, Hom vertrou om deur die trauma heen by haar te wees. Sy was ook gereed om saam met Hom die hemel in te stap as dit is wat Hy wou hê. Sy sien Hom as haar Here – genadig, getrou, liefdevol, lofwaardig, heilig, heerlik – en stap daagliks in geloof saam met Hom die dag binne.
‘n Ander bejaarde vriendin van ons het weer op ‘n dag gesê: “Ek het besef dis nie meer baie lank nie, dan sien ek vir Jesus! Wat ‘n wonderlike vooruitsig!”
Om ‘n lewe van geloof te leef, beteken om Jesus as my Here te ken, aan Hom al die eer te gee en Hom daagliks te dien. Om nie uit die oog te verloor waarnatoe ek op pad is nie: saam met Jesus na die “wenpaal”. Dit is die opwindende einde in en saam met my Here.
Eintlik weet niemand van ons wanneer ons by daardie einde van die wedloop, die wenstreep, aankom nie. Siekte of ‘n ongeluk kan die wedloop dalk gou kortknip. Daarom is dit ‘n goeie ding as ek die lewenspad saam met Hom stap, dag vir dag. Dan gaan Hy mos nie ‘n totale (skrikwekkende) vreemdeling wees, wanneer ek by Sy “voordeur” te staan kom nie.
Okke Jager se kostelike gedig oor die vriendskap tussen God en Henog wys iets van die spontaneïteit van so ‘n stap saam met Hom. Vrylik vertaal uit die Nederlands lyk dit as volg:
“God het dikwels by sy vriend Henog gekuier, saam gebid en saam uit die Bybel gelees. Een oggend nooi God vir Henog om saam te gaan stap (Vroulief sal vir die ete sorg). Henog sê vir die kinders: “Sien julle netnou!” En daar stap die twee. Hulle stap al geselsende, totdat Henog verskrik opmerk: ‘Oeps! Kyk hoe ver het ons gestap! Ons is al by U huis! Hoe kom ek weer by my huis uit?’ Die Here se antwoord: ‘Ag, jy gaan tog later by My kom woon. Kom ons spaar tyd – kom gerus binne!’” “En Henoch was niet meer: God nam hem weg.”
Wanneer Jesus sê: “Julle moet in My bly en Ek in julle” kom dit neer op ‘n stap saam met Jesus. Dan is ek soos Henog gereed om sommer by Jesus se “voordeur” in te stap.
“Dwell in Me and I will dwell in you. [Live in Me and I will live in you.] Just as no branch can bear fruit of itself without abiding in (being vitally united to) the vine, neither can you bear fruit unless you abide in Me.” – John 15:4 AMPC
Comments