top of page

Stel hulle vroeg-vroeg teleur

Stephan Joubert

Teks: 1 Johannes 4:10


“Disappoint them early.” “Stel hulle vroeg teleur.” Ek het al ’n paar keer in my lewe hierdie woorde van ’n Amerikaanse skrywer vir myself gesê. Dit het my regtig al baie gehelp. Ek het geleer ek stel mense eerder vroeg teleur deur net myself te wees, as om hulle te probeer beïndruk deur ’n vals beeld van myself voor te hou. Doen dieselfde. Moenie verkeerde verwagtings by ander skep waaraan jy nie kan voldoen nie. Moenie mense probeer gelukkig hou of tevrede stel nie Dan verander jy kort voor lank in ’n “people pleaser”. Wees slegs daardie mens, wat die Here jou gemaak het om te wees. Dan sal jy gou-gou oor mense se teleurstelling met jou kom, as jy nie alles kan doen wat hulle wil hê jy moet doen nie. Of as jy nie is soos wat hulle van jou verwag om te wees nie.


As jy in vrede met jouself leef en as jy slegs daardie mens is wat die Here jou gemaak het om te wees, dan is jy nie afhanklik van ander se opinies oor jou nie. Dan weet jy jy is goed genoeg in God se oë met jou “fabrieksfoute” en al. God het jou lief soos wat jy is. Jy hoef nie ’n modellyf of ‘n geniale IK te hê nie. Jy hoef ook nie een of ander bekende te wees nie. Al wat saak maak, is dat God jou liefhet. Jesus is die bewys hiervan. Leef net vir Hom. Uiteindelik gaan net Sy opinie oor jou saak maak.


Gebed:  Dankie, Here, dat ek goed genoeg is in U oë. Dankie dat Uself my regverdig verklaar.


Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page