Stilbly praat ook
- Stephan Joubert
- 1 day ago
- 2 min read
Teks: Spreuke 15:1
Stilbly is ook ‘n antwoord. So lui ‘n ou spreuk. Inderdaad. Stilte praat soms hard en reg. Dit praat dikwels beter as woorde. Dit is nie jou en my werk om ‘n wandelende “Google” te wees wat binne millisekondes ‘n opinie of oor enigiets of enigiemand in plek moet hê nie. Kom ons leer uit die Bybel dat dit die regte roete is om partykeer net stil te bly. Wanneer ons in die teenwoordigheid van dwase en skurke is, is stilte presies die regte soort taal, wat ons moet ken en ook gebruik. Kom ons kies ons woorde altyd versigtig. Hoe doen jy en ek dit? Wel, ons weet ten minste dat dit onwys is om te praat as ons humeur begin vlamvat. Dan gaan ons die “beste” toespraak ooit afsteek, wat ons na die tyd wens ons nooit moes kwytgeraak het nie. Ons bly stil as ons dink ons is die enigste een wat reg is, of as ons woorde besig is om in skerp messe te verander wat ander rondom ons stukkend sny.
Ons groei reg op God se pad as ons leer om minder te praat en meer kere na ander te luister. Dit is ook die regte groeigrond vir nederigheid, soos wat die kerkvader Benediktus eeue gelede gesê het. Nederigheid voor God en tussen ander mense gaan oor die regte en spaarsamige gebruik van ons tong. Stiller, sagte woorde, wat gedoop is in God se genade, praat altyd op die regte maniere die hardste! Kom ons leer reg praat op die Here se mooi manier.
Gebed: Here maak my woorde minder. Leer my om beter na U en na ander mense te luister.
Comments