
Lees Lukas 7:50
As Christen word ‘n mens soms onder ‘n vergrootglas dopgehou. Elke ding wat jy doen, word gesien en bespreek. Hierdie besprekings gaan definitief nie oor hoe oulik jy as Christen optree nie. Jy word aan flarde geskeur en nog geskop vir die doodskoot ook. Kortom, jou dade en optrede word dopgehou. Die slegte is dat ons verkeerde keuses maak en dan dra ons die gevolge van ons dade.
Jesus eet by ‘n Fariseër se huis en ‘n vrou met ‘n reputasie daag ook daar op. Die mense van die dorp ken haar. Hulle bespreek haar lewe gereeld. Sy het ‘n swak keuse in haar lewe gemaak. As daar nou een dame is, wat haar lewe opgemors het, is dit sy! Sy was Jesus se voete en dan maak sy dit met haar hare droog. Sy weet hoe sleg sy is. Sy besef deeglik hoe verkeerd sy lewe. Sy, wat heeldag in die modder rondploeter, weet wie Jesus is en omdat sy haar sonde besef, weet sy Hy is haar enigste hoop en redding!
In ‘n woordelose belydenis ontvang sy hemelse vergifnis. Hierdie vergifnis hou aan tot in ewigheid. Sy sal in die koninkryk van die Hemele lewe. Haar sondes is vergewe. Dit maak nie saak hoe sleg of hoe lelik haar sondes was nie, sy is vergewe. Sy is in Jesus se bloedrooi bloed wit gewas. Haar lewe het verander. Haar sondes is weg. Niemand kan meer iets oor haar sê nie. Die skindertonge van die dorp kan maar stilbly.
Hierdie vrou was bereid om ‘n kans te waag na haar slegte keuses. Sy het presies geweet hoe verkeerd sy was en hoe sonde haar opgevreet het. Sy het egter geweet waar die hoop was. Sy het alle hoop op Jesus gevestig! Hy het haar fokuspunt geword. Jesus het haar belydenis beleef en haar vergewe.
Dit maak nie saak wat jy al gedoen of nog gaan doen nie, Jesus sal jou vergewe. Jy moet met jou lewe voor Hom tot stilstand kom om hierdie hemelse vergifnis te ontvang. As jy dít kan doen, is Jesus se arms vir jou oop. Verander vandag daardie slegte keuse van jou, waaroor almal praat, in iets waaroor die hemele saam met jou kan juig. Ontvang vergifnis en proe God se genade in jou lewe.
Comments