top of page
Stephan Joubert

Tevrede en tot vrede in 2025

Om tevrede te wees, is onmoontlik … vir die meeste mense in elk geval. Die rede: Tevredenheid het in ’n verskuiwende teiken verander. Tevredenheid het sinoniem geraak met mense se eindelose behoeftes, of soos wat die Engelse sê, hulle “wants and needs.” Solank as wat hulle dit wat hulle hart begeer, het, is hulle tevrede. As hulle dit nie het nie, is hulle ontevrede. Boonop verloor daardie dinge, waarop mense hulle eie idees van tevredenheid bou, spoedig hul tevredenheidswaarde. Skaars het mense daardie nuwe selfoon, kledingstuk of voertuig gekry, of ’n nuwer een trek alweer hulle aandag. Dan begin die siklus maar weer van vooraf: ontevrede, tevrede, ontevrede …


Tevredenheid is ’n verskuiwende teiken … totdat jy dit op ’n ander Plek ontdek. Jy vind dit, wanneer God jou vind. Jy vind dit wanneer jy aan Sy voete tot vrede kom. Om die Here regtig as die Bron van alle goedheid en lewe te leer ken, is om egte sielrus te vind. Sy vrede het niks te make met uiterlike behoeftes of omstandighede nie. God se vrede is nooit “wants and needs”-aangedrewe nie. Sy vrede én tevredenheid word deur die Heilige Gees bewaarheid. Hy sorg dat jy Jesus se nuwe lewe in oorvloed beleef. Die Gees maak Jesus se goedheid waar en ervaarbaar, ook hier aan die begin van die nuwe jaar. Hy bring rus te midde van al die uitdagings, wat in 2025 op ons elkeen wag.

Comments


Commenting has been turned off.
bottom of page