David Deutschman, beter bekend as die “ICU Grandpa”, was ‘n vrywillige werker by die Children’s Healthcare of Atlanta hospitaal. Hy is een van my persoonlike helde. Hy het na sy aftrede na iets gesoek om sy dae mee te vul. Na ‘n besoek aan ‘n fisioterapeut by die hospitaal, besluit hy om in te loer by die kindersaal. Na twee gesprekke met mammas, wie se kinders baie siek was, besluit hy net daar hy weet wat hy met sy tyd wil doen. Vir 14 jaar lank het hy twee keer per week by die intensiewe sorgeenheid vir babas opgedaag. Hy het die babas vasgehou en getroos, terwyl hulle ouers moes werk of ander kinders tuis versorg. Die verpleegpersoneel het hom die “baby whisperer” genoem. Hy is op 14 November 2020 oorlede. Wanneer sy vriende hom gevra het hoekom hy dit doen, kon hy net antwoord dat daar niks so lekker was as om ‘n baba vas te hou en te vertroetel nie.
Ek leer so baie by David. Dit was vir hom belangrik om mense te dien. Hy het moeë mammas kans gegee om te gaan eet, terwyl hy hulle siek babas oppas. Hy het na hulle bekommernis en hartseer geluister en siek babas vasgehou, wat gehuil het. Sy geduld en liefde was eindeloos.
Hy het getrou twee keer per week opgedaag om sy werk te doen. Mense kon op hom staatmaak. Sy vreugde in sy werk was aansteeklik. Die rustigheid, waarmee hy die versorging gedoen het, is oorgedra aan die babas en hulle ouers. Met hulle koppies op sy hartklop, het hulle op hom aan die slaap geraak. Sy teenwoordigheid het rustigheid en kalmte in die saal geskep. David se getuienis is kosbaar. Sy lewe het van kalmte, rustigheid en vrede gespreek.
Dit is nog vroeg in die nuwe jaar. In ‘n vorige skrywe op 21 Januarie het ek gepraat oor nuwejaarsvoornemens, wat misluk. Wel, het jy al iets gevind waarmee jy jou tyd kan vul? Dalk het jy ’n stukkie tyd oor om te deel met ander te deel. Tyd is so baie kosbaar; daarom moet dit nie gemors word nie.
Daar is so baie instansies, wat mense nodig het om hulle te help. Gee jou tyd, sit by iemand. Sluit jou mond en luister na hulle. Hoor wat hulle nood is. Sluit aan by die vrywillige werkers van ‘n versorgingsoord. Doen inkopies vir ‘n bejaarde. Help by die plaaslike hospitaal. Maak die teerpaaie in jou omgewing saam met ‘n groep manne reg. Leer jonger kinders daardie vaardighede, wat jy het, aan.
Stig ‘n naaldwerk- of breigroep en brei met ‘n doel. Hekel mussies of komberse. Daar is soveel nood waar jou hande werk kan vind. Sien nood raak. Doen daadwerklik iets met jou tyd. Tyd wat so spandeer word, skep ‘n gevoel van tevredenheid en genoegdoening. Jy gaan voel jy het vir iemand iets beteken.
In Efesiërs 5:15-17 sê Paulus dat ons soos verstandige mense moet lewe. Dan sê hy dat ons die beste van elke geleentheid moet maak. Moenie jou tyd mors op onbenullige dinge nie. Moet ook nie selfsugtig met jou tyd wees nie. Spandeer dit deur in Sy koninkryk te werk, waar dit ewigheidswaarde sal hê.
Comentarios