Arme Moses het gevoel dat hy voor ‘n kruispad te staan gekom het. Hy het gevoel (hy was eintlik vas oortuig daarvan) dat hy nie kans sien nie. Hy kon nie goed praat nie, het totaal ontoegerus gevoel om onder moeilike, gevaarlike omstandighede met die heidense farao te gaan praat. Een mislukte poging het hom daarvan oortuig dat nie die moedelose volk óf die halsstarrige farao na hom sou luister nie.
In sy ontmoeting met die Here het Moses sy punt probeer stel. Die Here het nogtans vir Moses en Aäron weer na die farao toe gestuur, weereens met die brawe versoek om die volk van Israel te laat gaan.
Hierdie “nogtans” het my dadelik aan die profeet Habakuk se “nogtans” lied laat dink. Hy het met sy ontsteltenis oor geweld, onreg en ellende by die Here antwoorde gesoek. Soos Moses, wou Habakuk saam met die volk moedeloos raak oor die moeilike omstandighede waarin hulle hulle bevind het. Terwyl hy sy hart voor die Here oor die swaarkry uitstort, kom daar nuwe hoop en blydskap. Die profeet kan verklaar: “ … tog, ten spyte van alles, sal ek my verbly in die HERE. Ek sal juig oor God wat my verlos!” (Habakuk 3:18 NLV)
My omstandighede mag dalk moeilik, selfs benard wees. Wanneer ek egter tyd by die Here in persoonlike Bybelstudie en gebed spandeer, gee Hy vir my nuwe antwoorde, nuwe krag. Dan, ten spyte van die benarde situasie waarin ek myself mag bevind, kan ek saam met Habakuk sing: “Nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” (Habakuk 3:18 AFR83)
So is ek dan ook toegerus om ander te “bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.” (2 Korintiërs 1:4 AFR83) So kan ek die vrede en blydskap wat die Here gee, verder die wêreld indra.
“Lord, help me spread your fragrance everywhere I go, and may your radiant light be visible through me.”
Upper Room Daily Devotional Guide
Comentários